De Wetshof en Weskus-Wyngilde “speel” met kos en wyn

“Hoe meer jy van iets weet, hoe meer waardeer en geniet jy dit.” My Oupa Dirk was ’n groot voorstander van studeer en het geglo “mense van integriteit” hou nooit op leer nie. “Die dag dat jy ophou leer, is die dag dat jy ophou leef.”

Sy wysheid het my al die jare bygebly, en toe ek so 17 jaar gelede my eie wynreis aangepak het, het dit my aangespoor om wyn nie as ’n bestemming te sien nie, maar eerder as ’n reis van ontdekking en verkenning. Dit het my egter gou laat besef dat Suid-Afrika nie ’n wynkultuur het soos die vernaamste wynproduserende lande van Europa nie.

Dis egter besig om te verander … maar baie langsaam! Ja, wynfeeste en begeleide wynproeë help, maar een van die beste maniere om meer van wyn te leer en hierdie “geskenk van Bo” meer te geniet en te waardeer, is deur wynklubs.

Omdat ek bietjie oor wyn gestudeer het en gereeld begeleide wynproeë bywoon as deel van my “werk”, het ek nooit oorweeg om by ’n wynklub aan te sluit nie. Tot nou!

Hier langs die Weskus het ek gehoor van die Weskus-Wyngilde en per vonkpos kontak gemaak. Die eerste twee geleenthede het ek gemis, maar toe kom hul jaareinde-funksie en ek besluit dis hoog tyd dat ek my gesig gaan wys … as gas.

De Wetshof se MCC met oesters.
De Wetshof se MCC Brut en oesters.

Die geleentheid was by die Blue Bay Lodge in Saldanha en die wyn is deur die bekende De Wetshof naby Robertson verskaf. Die restaurant se kok het die disse voorberei wat met die wyne gepasmaak sou word.

Net so terloops, die Weskus-Wyngilde is glo reeds 22 jaar aan die gang en spog met sowat 40 toegewyde en entoesiastiese lede.

Die aand het afgeskop met oesters en sjampanje (in Suid-Afrika bekend as Cap Classique of MCC). Is daar dan ’n beter manier om enige geleentheid mee af te skop! Die MCC was ’n 2009- Brut van De Wetshof. Ek sou maklik die hele aand daai oesters en sjampanje geniet het, maar daar was wyne en disse wat gepasmaak moes word.

eester geregOns het afgeskop met twee De Wetshof-witwyne, die 2017- Rhine Riesling en die Sauvignon Blanc van dieselfde oesjaar. Hulle kosmaat was ’n interessante garnaalkelkie met guacamole (links). Ek’s ’n groot fan van rielsing, maar dan moet dit droog wees. Hierdie een het ’n ressuiker van 20gm wat hom te soet vir my tong maak, maar as maat vir die dis was hy in die kol, meer so as die Sauvignion Blanc, hoewel laasgenoemde vir my meer drinkbaar was. Ek kan egter glo dat die Rhine Riesling ’n baie “veilige” wyn is om aan te bied as jy nie seker is van mense se voorkeur nie.

Op sy eie het ek vir hom 12 uit 20 punte gegee, terwyl die Sauvignon Blanc 14 punte gekry het. Die gemiddelde puntetoekenning van al die gildelede en gaste was 14,6 en 13,6 onderskeidelik.

tweede gereg

Hierna is twee ongehoute chardonnays aangebied, De Wetshof se Limestone Hill Chardonnay en die Bon Vallon Chardonnay, albei van 2017. Hulle was maats vir ’n smullekker mosselgereg (regs). Die Bon Vallon Chardonnay het vir my effens beter gewerk saam met die gereg, maar op hul eie kan hulle enige tyd maar in my “keldertjie” kom ontspan! My puntetoekenning aan die twee was 15 en 14 onderskeidelik, terwyl die aanwesiges se gemiddelde puntetoekennings 14,2 vir die Limestone Hill en 13,9 vir die Bon Vallon was.

Die derde bederf was ’n heerlike varkpensdis (onder links) wat met twee gehoute chardonnays gepasmaak is, die De Wetshof The Site Chardonnay en die Bateleur Chardonnay, albei van 2015. Hierdie is uiteraard “groter” en “ernstiger” wyne as hul ongehoute keldermaats en albei het die sogenaamde “sweet spot” getref by my.

Die twee het ook ewe goed gewerk met die dis en gevolglik 16 punte verdien by my. Die gemiddelde puntetoekennings was 13,9 en 14,3 onderskeidelik.

Dit was tyd vir ietsie soets en dekadents, nagereg! En hier het De Wetshof twee rooies aangebied, die 2015- Cabernet Sauvignon en die Thibault 2010, ’n versnit van merlot en cabernet sauvignon. Albei het goed met die panna cotta-poeding gewerk (regs onder). Die Cab het 14 punte by my gekry, terwyl die Thibault vir my die wyn van die aand was. Hy het 17 punte verdien. Die gemiddelde toekennings was 15,4 en 15,5 onderskeidelik.

Die feit dat wynsmaak baie persoonlik en subjektief is, het weer eens duidelik geblyk uit die groot verskil in die puntetoekennings vir al die wyne, en dit het my laat dink aan wat oorlede Ronnie Melck, ’n ware wynghoeroe, dekades gelede aan ’n jong en dom student gesê het: “Die beste wyn is die een waarvan jy die meeste hou, ongeag handelsmerk, prys of toekennings.”

 

 

EINDE

2 thoughts on De Wetshof en Weskus-Wyngilde “speel” met kos en wyn

  • Hallo Johann, Al wat ek kan byvoeg is, vir iemand (ek en my vrou) wat hou van ‘n Chardonay wat met hout kennis gemaak het, was die Limestone Hill iets besonders. Ek dink dit was die eerste keer in tien jaar wat ek ‘n Chardonay bestel het wat nie gehout is nie. Oulikke berig en welkom by die groep! Franz

  • Wat ‘n mooi beskrywing van die aand is dit nie! Die kos van Blue Bay Lodge was uitsonderlik en die gekose geregte was perfek vir die wyn keuses. Ons almal was aangenaam verras en het die aand terdee geniet. Dit was ‘n kos en wyn reis uit die boonste rakke. Dankie aan DE WESTS HOF & Blue Bay vir hierdie bederf. Dit sal die WESKUS WYNGILDE nog lank bybly. Darrelle RE/MAX WESKUS

Leave a Reply to Franz von moltke Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>