De Meye vier tien jaar van wyn maak

Date posted:
July 27, 2009

De Meye Wines in die Muldersvlei/Elsenburg-gebied buite Stellenbosch vier tien jaar van wyn maak vanjaar en die Myburgh-familie het besluit dis ook sommer tyd om hul wynetikette te vernuwe om die oue en die nuwe van wynmaak op De Meye uit te beeld.

 

Terloops, die plaas se naam kom van die De Meye-rivier in Holland vanwaar die Myburghs se pionier-voorvaders gekom het in die 17de eeu.

 

Philip Myburgh, wat by sy pa Jan die leisels oorgeneem het, word op De Meye bygestaan deur, Marcus Milner, wynmaker, en sy assistant, Aby Bodlani.

 

Benewens die nuwe etikette, spog De Meye vandag ook met ‘n nuwe proekamer wat in ‘n ou koeistal gehuisves word en sewe dae ‘n week oop is, en daar is ook ‘n onthaalfasiliteit.

 

Die eerste drie wyne wat met die nuwe etiket vrygestel word, is die De Meye Trutina 2006, hul vlagskip- rooi versnit wat uit cabernet sauvignon en shiraz bestaan en vir sowat R99 per bottel verkoop. Hy’s glo nommerpas vir wildsvleis, veral springbok en koedoe, beesstert of ‘n sappige biefstuk.

 

Dan is daar die De Meye Unwooded Chardonnay 2009 wat vir die eerste keer met ‘n skroefdop beskikbaar is. Hy kos sowat R48 per bottel en word aanbeveel by oesters, sushi, lynvis, ligte en romerige pastageregte en hoenderdisse.

 

 

Links: Die proekamer op De Meye het 'n lekker warm en huislike atmosfeer.

 

 

 

 

 

 

 

 

Die derde en laaste wyn met die nuwe etiket is die De Meye Shiraz Rosé 2009, wat ook met ‘n skroefdop beskikbaar is. Hy kos sowat R40 per bottel en behoort goed te pas, lekker koud, by sushi, gerookte salm, kreef en Kaaps Maleisiese of Thai-geregte.

 

Die oorblywende De Meye-wyne sal ook mettertyd onder die nuwe etiket bemark word namate nuwe oesjare vrygestel word.

 

Met die tong so halfpad in die kies het die De Meye-span ook ‘n Recession Red bekend gestel. Hierdie wyn is net by die proekamer beskikbaar. Jy betaal R5 vir ‘n magnum-bottel, vul dit dan uit die klein tenk in die proekamer vir R35 en sit self jou kurk in. Wanneer jy jou bottel terugbring, word dit herwin en ‘n nuwe magnum word gevul.

 

De Meye is een van die eerste wynplase in SA wat laventelolie maak. Isabella Lavender Oil is vernoem na Philip Myburgh se moeder, Isabel, wat steeds op die plaas woon. Die olie is in die proekamer en by uitgesoekte gesondheidswinkels beskikbaar teen sowat R40 per bottel.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram