De Krans stel Pink Port bekend

Date posted:
July 7, 2009

De Krans is een van die top Port-produsente in Suid-Afrika wat konstant portwyne van gehalte produseer van style soos Wit, Robyn, Tanige, Oesjaar en Oesjaar Reserwe Port. ‘n Bewys hiervan is drie vyfster-portwyne in die Platter-wyngids vir sy 2003-, 2004- en 2005- Oesjaar Reserwe Port.

 

De Krans het pas die eerste produsent in Suid-Afrika geword om ‘n pienk Port vry te stel. Hoekom pienk Port? Met die relatiewe warm klimaat gedurende die grootste gedeelte van die jaar in SA maak dit sin om ‘n port te berei wat regdeur die jaar geniet kan word. Die Port is soortgelyk aan ‘n wit Port, maar met meer vrug en lengte in die mond.

 

Die idee is gebore laat in 2007 en in Februarie 2008 het die broers Boets & Stroebel Nel ‘n gefortifiseerde rosé berei van tradisionele portkultivars. Die wyn was ‘n aangename verrassing, maar nog steeds sonder ‘n naam. Net hierna het Boets en Stroebel gelees van Croft Pink, ‘n pienk Port berei deur een van die ou tradisionele porthuise in die Douro-vallei in Portugal, wat deur Marks & Spencer in Engeland bemark word.

 

Die gevolg: De Krans se Port het ‘n naam gekry, De Krans Pink Port!

 

Die Port is berei van die tradisionele portkultivars touriga nacional, tinta barocca en souzão. Die lifelike, ligte pienk kleur is verkry deur dopkontak van slegs ‘n paar ure toe te laat. Na ‘n koelgisting van ongeveer 5 dae is die Port gefortifiseer met onverouderde brandewynspiritus. Die gevolg is ‘n port met ‘n aantreklike ligpienk kleur, ryp geure van rooibessies en ‘n lang talmende nasmaak.

 

Hierdie styl Port is bedoel vir alle Port-liefhebbers wat die varsheid en geure van hierdie wyn heeljaar wil geniet.

 

Geniet goed-verkoel of met gekapte ys in die warmer maande as ‘n aptytwekker met neute en olywe. In die koeler tyd van die jaar kan dit ook teen kamertemperatuur (16 – 18ºC) bedien word met neute, olywe of enige patee van jou keuse.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram