Die De Krans-wynkelder buite Calitzdorp op die Klein Karoo-wynroete het pas ’n nuwe rooiwyn vrygestel, Tinta Mocha 2010, ’n droë rooiwyn gemaak van 100% tinta barocca-druiwe, een van die staatmaker-kultivars vir rooiwyn en port in Suid-Afrika.
Die Tinta Mocha 2010 is 6 maande lank verouder in swaar geroosterde Franse eikehoutvate. Die gevolg is ’n volronde wyn met intense geure van mokka-koffie en sjokolade, ryp pruime en moerbeie en ’n ferm, sappige tannienstruktuur. Die wyn het goeie verouderingspotensiaal van 5 jaar of meer.
Bedien die De Krans Tinta Mocha 2010 teen kamertemperatuur (16 - 18°C) in sowel die winter as die somer.
Die Tinta Mocha 2010 het ’n baie treffende verpakking met prominente oranje-, koper- en sjokoladebruin kleure wat die merkwaardige koffie- en sjokoladekarakter van die wyn komplementeer.
De Krans se 2010-Tinta Mocha is beskikbaar in 750ml-skroefdopbottels vanaf 1 Maart die kelder self en by sekere toonaangewende kleinhandelaars landwyd. Die kleinhandelprys issowat R55 per bottel.
Vir meer inligting oor die nuwe Tinta Mocha, skakel De Krans by 044–213-3314, of stuur ’n e-pos aan dekrans@mweb.co.za. De Krans se wyne word landwyd versprei deur Wine Worx (021–886-9165).
EINDE
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast