Die De Krans-wynkelder by Calitzdorp is pas vir die tweede jaar agtereenvolgens aangewys as die amptelike wynverskaffer vir die ABSA KKNK, wat vir die 19de keer vanaf 29 Maart tot 6 April op Oudtshoorn plaasvind. De Krans se reeks wyne sal eksklusief beskikbaar wees by al die feeskroeë, onder meer in die Rivierbuurt by die 10 tot 10- en Top 40-verhoë, asook by die ABSA Burgersentrum, Club Al Capone, CP Nel Museum, Huisgenoot Musiekplaas en ATKV Neelsie.
De Krans se hele span is baie opgewonde en verheug dat dié kelder weer vanjaar die ABSA KKNK se keuse is omdat dit ‘n fees is wat in die hart van die Klein Karoo aangebied word. Besoekers kan vanjaar daarna uitsien om weer De Krans se reeks gehaltewyne teen bekostigbare pryse by die fees te geniet en opnuut bevestiging kry van die kwaliteit en veelsydigheid van die Klein Karoo se wyne. Die splinternuwe en baie gewilde De Krans Moscato-perléwyn sal ook vanjaar beskikbaar wees.
De Krans is een van die oudste wynkelders in die Klein Karoo en is die afgelope 5 jaar aangewys as die Kampioenkelder by die Klein Karoo/Suid-Kaap se Markklaarwynskou.
De Krans bied ‘n volledige reeks wat wissel van uitstekende waarde-vir-geld- tot uitsonderlike gehaltewyne wat die afgelope aantal jare verskeie prestasies in kompetisies behaal het. By die Veritas- en Michelangelo-wynkompetisies het van die wyne goue en dubbelgoue medaljes ontvang, asook verskeie Platter vyfster- en Beste Waarde-toekennings. Die Garden Route-reeks word ook by De Krans gemaak van koelklimaatdruiwe afkomstig van Waboomskraal in die Outenikwaberge.
Vir meer inligting oor De Krans se wyne en sy betrokkenheid by vanjaar se ABSA KKNK, kontak Helet of Bessie by 044 – 213 3314 of epos dekrans@mweb.co.za .
EINDE
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast