De Krans se Portugese tafelwyne pas winter en kos soos handskoen!

Hoewel De Krans aan die buitewyke van Calitzdorp sinoniem is met die produksie van bekroonde portwyne, het hierdie bekende landgoed sy “verhouding” met Portugese kultivars uitgebrei om ook ’n uiteenlopende en unieke reeks Portugese tafelwyne, bekend as die Terroir-reeks, in te sluit. Die naam is baie gepas aangesien die streek se terroir en die kultivars mekaar in ’n “gelukkige huwelik” bevind wat bekroonde tafelwyne voortbring.

De Krans se vlagskip-tafelwyn, die Tritonia Red (’n sogenaamde Calitzdorp Blend), is ’n rooi versnit wat reeds die Old Mutual-trofee vir die beste nie-Bordeaux rooi versnit in 2017 ingepalm het, asook ’n goue medalje op die Ses Nasies-wynkompetisie in 2017 en 2018. Die wyn, vernoem na ’n plant wat in die spesieryke Klein Karoo gevind word, is ’n versnit van Portugese kultivars insluitende touriga nacional, tinta roriz, tinta barocca en tinta amarela. Hierdie volronde dog elegante en seepgladde versnit bied die ideale kombinasie van vrugte en aardsheid in die mond, tesame met kruie en geïntegreerde eikehout.

Die Touriga Nacional, ’n enkelkultivarwyn waarvan die wingerd in 1994 op De Krans aangeplant is, het sy eerste verskyning in 2000 gemaak as ’n droë rooiwyn. Hierdie wyn ontplof met geure van sappige, donker vrugte, speserye en stewige tanniene. Laasgenoemde gee aan die wyn sy goeie struktuur. Die Touriga Nacional het tot dusver puik gevaar op die jaarlikse SA Novare Terroir-toekennings en is, saam met die Tritonia Red, die ideale kosmaat vir enige soort rooivleisgereg, veral wildsvleis en volstruis.

Toe die eerste Portugese kultivars in 1973 op De Krans aangeplant is, is daar verkeerdelik geglo dit is shiraz. Eers toe die druiwe ’n paar jaar later gepluk is, is besef dat dit eintlik tinta barocca is, een van die vernaamste kultivars vir die meeste van die landgoed se portwyne en Portugese tafelwyne. Dit was ’n “gelukkige ongeluk” wat daartoe gelei het dat Calitzdorp vandag beskou word as die “Portwynhoofstad van Suid-Afrika”! Soos die gesegde lui, blom waar jy geplant het, en die Nels van De Krans het beslis!

Die tafelwyne wat van Portugese druifsoorte gemaak word, is steeds effe onbekend in die wynbedryf aangesien hulle stil-stil wegkruip in die “Ongewone Kultivars”-afdeling op wynlyste. Hulle mag deelneem, word gerespekteer vir hul gehalte en potensiaal, en bewonder vir hul prestasies, maar wanneer daar byvoorbeeld op ’n rooiwyn vir die biefstuk besluit word, keer mense terug na ou gewoontes en kies die gewone, die bekende. Wees volgende keer bietjie avontuurlustig en kies die een wat stil-stil wegkruip. Jy mag jouself dalk net verras en ’n nuwe gunsteling ontdek!

De Krans se Touriga Nacional, wat landwyd beskikbaar is, kos sowat R145 per bottel, terwyl die Tritonia Red landwyd beskikbaar is teen sowat R235 per bottel. Die wyne is ook aanlyn beskikbaar by www.dekrans.co.za.

Vir meer inligting oor De Krans se omvattende en uiteenlopende wynreeks, besoek www.dekrans.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>