De Krans se ports tel onder SA se 100 beste wyne

Date posted:
May 6, 2011

Twee portwyne van De Krans buite Calitzdorp, die De Krans Cape Vintage Reserve Port 2008 en die De Krans Cape Tawny Port, is opgeneem in Suid-Afrika se Top 100 wyne vir 2011. Albei het ook reeds uitsonderlik gevaar in ander nasionale kompetisies.

 

Die De Krans Cape Vintage Reserve Port 2008 het ’n vyfstergradering in die 2011- Platter-wyngids, asook ’n 4½-stergradering in die tydskrif WINE se Junie 2010-uitgawe ontvang. Dié oesjaar volg in die voetspore van die 2007- Vintage Reserve Port, wat verlede jaar dubbelgoud by Veritas ingepalm het. Hierdie uitsonderlike port het ’n warm pruimkleur met sterk pruim-, spesery- en tabakgeure, en het die potensiaal om vir ’n verdere 20 tot 25 jaar te verouder. Dié premie-port se kleinhandelprys is ongeveer R200 per bottel en kan òf as drankie op sy eie geniet word òf om sterk kase te komplementeer.

 

Die De Krans Cape Tawny Port het ook ’n vyfstergradering in die 2011- Platter-wyngids ontvang, asook dubbelgoud verlede jaar by Veritas, is aangewys as die beste algehele port by die SAPPA Peter Schulz Port Challenge van sowel 2009 as 2010, en het ’n 5-stergradering in die Junie 2010-uitgawe van WINE gekry. Die port word geken aan sy pragtige koperkleur, die lang, talmende nasmaak, en asemrowende koffie- en toffiegeure met  ’n tikkie neute en rosyntjies. Die De Krans Cape Tawny Port is die ideale pasmaat vir bruin uiesop, koffie en sjokolade en kos ongeveer R105 per bottel by uitgesoekte handelaars.

Volgens Boet Nel, keldermeester by De Krans, het die hele portreeks in die De Krans-portefeulje die afgelope paar jaar hul slag gewys met die De Krans Cape Ruby Port wat ook ’n 4-stergradering in die 2011- Platter-wyngids ontvang het.

 

Al die ports in die De Krans-reeks is beskikbaar by uitgesoekte handelaars regoor die land.

 

Vir meer inligting oor De Krans se portwyne, besoek www.dekrans.co.za, en vir meer inligting oor die jongste Top 100 wyne in SA, besoek www.top100sawines.co.za.

 

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram