De Krans, die bekroonde port-wynkelder by Calitzdorp, het pas ‘n nuwe dessertwyn vrygestel, die De Krans Espresso.
Hierdie wyn is berei van die twee belangrikste portkultivars, naamlik touriga nacional en tinta barocca. Dit het 'n suikergehalte van 92g/l (ongeveer dieselfde as De Krans se puik portwyne) en het verlengde houtveroudering in Franse eikehoutvate van 300 liter ondergaan voor bottelering.
Hierdie unieke wyn het 'n diep, robynrooi kleur met aangename aromas van varsgemaalde koffie en donker bessievrugte. Dit het 'n stewige struktuur met 'n talmende, aromatiese nasmaak. Bedien teen kamertemperatuur in die winter of effe verkoel in die somermaande.
De Krans Espresso is nie 'n port nie al is dit berei van klassieke portkultivars. Dis ook nie koffie nie al het dit lieflike aromas van varsgemaalde koffie. De Krans se Espresso is die ideale dessertwyn om 'nn heerlike ete saam met goeie vriende af te sluit. Die Espresso is verpak in 'n 375ml-matglasbottel waarop die etiket stylvol gedruk is. Dit is reeds beskikbaar by verskeie toonaangewende drankwinkels landwyd teen R55.00 per bottel.
Vir meer inligting oor die nuwe Espresso, skakel De Krans by 044 – 213-3314 of stuur 'n e-pos na dekrans@mweb.co.za. De Krans se wyne word landwyd aan die kleinhandel versprei deur WineWorx (021–886-9165).
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast