De Krans se Bloeiselprojek skep pragtige items uit vate, bottels en proppe

Wat doen mens wanneer ’n pandemie jou tref en skielik ’n dramatiese uitwerking op jou onderneming en personeel het? Jy kan terugsit en kla of jy kan kreatief raak, hande vat en iets waardevols skep.

Dis wat die mense van De Krans vanjaar in die gesig moes staar toe COVID-19 die land soos ’n tsoenami getref het.

“Soos gewoonlik en met eg Suid Afrikaanse optimisme het ons die jaar afgeskop met groot afwagting en fokus, gretig om voort te bou op 2019 se goeie groei in verkope en dankbaar vir die eerste toename in die grootte van ons druiwe-oes (steeds net ’n skamele 45% van ’n normale oes) sedert die begin van die voortslepende droogte,” sê Boets Nel, mede-eienaar van hierdie bekende en veelbekroonde Calitzdorpse wynlandgoed. “Ons was ook gewapen met ‘n splinternuwe wynmaker en bistro-bestuurder met nuwe insigte en baie doelgerigtheid, energie en kreatiwiteit.

“Natuurlik kon niemand voorspel hoe hierdie jaar sou uitdraai nie. Terwyl die situasie tans meer positief lyk as ’n paar maande gelede, het 2020 ongetwyfeld sy merk gelaat. Die onsekerheid was by tye oorweldigend. Almal was en word steeds gekonfronteer met unieke en persoonlike uitdagings, en ons sal heel moontlik eers die nagevolge van hierdie pandemie en inperkingstydperk sien en voel in die maande en jare wat kom.

“Ons bistro en wynproelokaal was gesluit en daar was geen sprake van wynverkope nie. Daar was geen lig aan die einde van die tonnel nie.”

Die keuse vir De Krans en sy mense was eenvoudig, sink of swem. Daar is besluit om te swem! Items soos ou houtvate, kurke, leë wynbottels en natuurlik wingerdlote was uiteraard volop.

“Kreatiwiteit en ’n gevoel van dringendheid het uiteindelik gelei tot ons kreatiewe Bloeiselprojek. Die gebruik van hierdie herwinbare items was so gepas in hierdie moeilike tyd – die belangrikheid daarvan om die hand te speel wat jy gedeel is en om inspirasie en deursettingsvermoë te ontdek om iets mooi en iets bruikbaars te maak.

“Die bistro- en die wynproelokaal-personeel het saamgespan om die mooiste produkte te maak. Natuurlik, soos met enige kreatiewe proses, was daar mislukkings, verskille, weer en weer probeer, uithouvermoë, vasbeslotenheid en ’n gemeenskaplike doel – om produktief te werk, om besig te bly, ons werke te behou, en om aan te hou bou in ’n tyd waar dit gevoel het asof alles om ons ineenstort.”

Boets sê die mooi van hierdie projek lê nie net in die versigtig, handgemaakte produkte of die kreatiewe proses agter dit nie, maar in die vaardighede wat aangeleer is, die foute wat gemaak en waaruit kosbare lesse geleer is, die ontdekking van verskuilde talente en die bemagtiging van ’n hele span.

“Hierdie handgemaakte produkte is geskep deur mense wat gewoonlik wyn verpak, mense wat die heerlike sous maak vir die lamskenkel, en ons veteran-proelokaalbestuurder – nie deur vakmanne of professionele mense nie. In hierdie jaar van totale onsekerheid en besondere uitdagings het ons ervaar dat daar skoonheid is in die poging en genade in die imperfeksie.”

Boets en sy span se hoop is dat dit waarmee begin is as ’n oorlewingsprojek sal ontwikkel in ’n volhoubare projek tydens die wintermaande wanneer dit normaalweg stil is by die bistro en in die wynproelokaal.

“Ons is ook opgewonde om ’n positiewe bydrae te maak om besoedeling te bekamp deur hoofsaaklik herwinbare materiale te gebruik vir ons projek.”

Aangesien die Bloeiselprojek nog in sy spreekwoordelike kinderskoene is, is die produkte tans slegs op die plaas self te koop, onderhewig aan beskikbaarheid.

Vir meer inligting oor hierdie produkte – wat nie net enige huis sal opkikker nie, maar ook puik Kers- of verjaarsdaggeskenke maak – kontak Boets Nel by boets@dekrans.co.za or Annemi Nel  by marketing@dekrans.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>