De Krans Pinotage Rosé 2020 pas die tong net so goed soos die sak!

Rosé bly steeds een van die gewildste wynstyle en geniet al hoe groter byval by ’n groterwordende en uiteenlopende mark. As ’n styl op sy eie het rosé dit reg gekry om suksesvol te ontwikkel van ’n gewilde somerdrankie vir ’n sekere groep wyndrinkers tot ’n genotvolle, alledaagse wyn van keuse vir ’n steeds groeiende getal wynliefhebbers.

Rosé bied ook ’n groot en heerlike verskeidenheid wanneer dit kom by kleur, kultivar en suur- en suikervlakke. Hoewel De Krans buite Calitzdorp aanvanklik ’n rosé van cabernet sauvignon gemaak het, gevolg deur een van tinta barocca, is daar drie jaar gelede besluit op ’n Pinotage Rosé, en die res is geskiedenis!

Die eg Suid-Afrikaanse en veelsydige pinotage-druif is ’n wonderlike verteenwoordiger van die land se ryk wyn-erfenis. Dit lewer nie net uitmuntende rooiwyne nie, maar sit ook sy beste voet voor wanneer dit by rosé kom en verskaf ’n pragtige geurprofiel aan hierdie wynstyl.

De Krans se Pinotage Rosé 2020 het ’n ligte pienk kleur en bied ’n verfrissende en gebalanseerde suur en geure van rooi vrugte soos aarbeie en spookasem in die mond.

Sedert die verandering na pinotage vir sy rosé, het De Krans reeds verskeie toekennings ingepalm, soos ’n goue medalje by die Gold Wine Awards in 2019, Dubbelgoud by die Rosé Rocks 2019-kompetisie en Dubbelgoud by verlede jaar se Ultra Value Challenge. 

Die De Krans Pinotage Rosé 2020 kos sowat R68 per bottel.

Vir meer inligting of om aanlyn te bestel, besoek gerus De Krans se webtuiste by www.dekrans.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>