De Krans Pinotage Rosé 2018 ‘n wyn vir alle seisoene!

Hoewel die afgelope oes wynboere harde bene laat kou het, is daar nogtans lig aan die einde van die tonnel … en dis NIE ’n aankomende trein nie! Die oes mag wel veel kleiner wees, maar die gehalte is daar, en dit word duidelik wanneer mens die jongste oesjaar van De Krans se gewilde Pinotage Rosé proe, ’n wyn wat al vier die seisoene in een bottel verteenwoordig.

 

Die De Krans Pinotage Rosé 2018 is aan die einde van April bekend gestel en spog met ’n mondvol rooivrugtegeure en ’n goed gebalanseerde suur wat lei tot ’n ontploffing van varsheid in die mond. Ruik en jy sal verras wees met subtiele aromas van roosblare, spookasem en aarbei.

 

De Krans het voorheen ’n “blosende” wyn van ander druifkultivars gemaak, maar pinotage het in 2016 sy kleim op hierdie bekende en bekroonde landgoed afgesteek met die bekendstelling van die eerste De Krans-rosé van hierdie rasegte Suid-Afrikaanse rooi druifsoort. Pinotage is nie net ideaal vir die maak van ’n rosé-styl wyn danksy sy puik geurprofiel nie, maar dit bied ook aan De Krans se wynmaker, Louis van der Riet, en sy span die geleentheid om hulde te bring aan ’n trots en eg Suid-Afrikaanse kultivar.

 

Nadat die druiwe ontstingel en fyn gedruk is, is die sap byna onmiddellik van die doppe verwyder wat tot die pragtige, ligte “blos” van die wyn lei. Die kleur van rosé speel ’n belangrike rol en laat deesdae die tong behoorlik gons. Waar donkerder pienk of selfs ligte rooi dikwels dui op ’n soeter wyn, het die ligte pienk van die meeste rosé-styl wyne sinoniem geword met ’n droër wyn.

 

Die De Krans Pinotage Rosé 2018 kos sowat R65 per bottel en is ook beskikbaar op die landgoed. Vir meer inligting, skakel 044 213 3314 of besoek www.dekrans.co.za.

 

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>