De Krans Pink Port is perfek vir die somer

Date posted:
July 14, 2011

Wat is dan nou lekkerder as ‘n glas yskoue De Krans Pink Port om tydens die pragtige sonsondergange van die Suid-Afrikaanse somer te geniet? Hierdie kenmerkende portwyn, wat op ‘n unieke manier gemaak is om verbruikers plesier te verskaf, is die ideale skemerkelkie vir die warmer lente- en somersaande.

 

De Krans se Pink Port, die eerste van sy soort, is vroeg in 2008 bekend gestel en word van die tradisionele portkultivars touriga nacional, tinta barocca en souzão gemaak. Die sap is slegs ‘n paar uur se kontak met die druiwedoppe toegelaat en daarna koud gegis vir sowat vyf dae voor fortifisering met onverouderde brandewynspiritus. Die gevolg is ‘n port met ‘n pragtige blos, ryk en ryp geure van vars, rooi bessies en ‘n lang, talmende nasmaak.

 

Hierdie nuwe styl van port, wat landwyd by die meeste kleinhandelaars in ‘n dowwe bottel van 375ml verkrygbaar is teen sowat R45, stel portliefhebbers regdeur die jaar bloot aan sy wonderlike varsheid en geurspektrum. Die Pink Port, wat in 2009 ‘n goue medalje op die Michelangelo-wyntoekennings ingepalm het, smaak op sy beste verkoel, of op gebreekte ys in die somer as aptytwekker, of bedien met neute en olywe. In die koeler maande is dit op sy beste teen kamertemperatuur met olywe, neute of enige patee van jou keuse. Iets wat die tonge los maak, is die bediening van De Krans se Pink Port met bevrore druiwe as dekoratiewe ysblokkies.

 

Die De Krans-wynkelder is in die prentjiemooi Gamkariviervallei naby Calitzdorp geleë en in die hart van die Klein Karoo. Die huidige eienaars en keldermeesters is die broers Boets en Stroebel Nel. Vir meer inligting oor die plaas en die ander wyne in die De Krans-reeks, besoek gerus www.dekrans.co.za of kontak Helet of Bessie op 044-213-3314.

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram