De Krans Original Espresso – kiering die winterkoue met ’n ‘portkoffie’!

Wyn en koffie word normaalweg afsonderlik geniet, maar hoekom nie hierdie twee gunstelinge kombineer nie? En wie dan anders om met ’n oplossing in ’n bottel vorendag te kom as die bekroonde De Krans-privaatkelder buite Calitzdorp! De krans se oplossing is sy Original Espresso, ’n hemelse “huwelik” tussen portwyn en koffie.

 

Toe die innoverende wynmaakspan van De Krans hierdie heerlike nektar ’n paar jaar gelede die lig laat sien het, het hulle ’n wynstyl geskep met sterk geure van koffiebone gekombineer met ’n ryk karakter en dekadente soetheid. Die De Krans Original Espresso was van die begin af ’n groot sukses aangesien dit een van die landgoed se gewildste portwyne geword het.

 

En nee, geen koffiebone is bygevoeg nie! Die koffiesmaak is die gevolg van veroudering in swaar geroosterde eikehoutvate.

 

Terwyl die naam Espresso vanselfsprekend is, het die styl ontwikkel in ’n meer gesofistikeerde en subtiele portwyn met ’n kenmerkende koffie-nasmaak en ’n oorvloed rooi vrugtegeure. Hierdie dessertwyn is ’n versnit van die “groot vyf” Portugese kultivars, naamlik touriga nacional, tinta barocca, tinta amarela, tinta roriz en souzao, en bied ’n seepgladde mondgevoel met geure van gedroogde vrugte, pruimedante en kakao. Hoewel die De Krans Original Espresso geklassifiseer is as ’n dessertwyn, is dit nie té soet nie, eerder effe droër in lyn met die portwyne waarvoor De Krans bekend geword het.

 

De Krans se Original Espresso is in 2012 aangewys as die mees innoverende wyn op die internasionale Michelangelo-wynkompetisie. Dis uiters veelsydig en kan enige tyd, enige plek en op byna enige manier geniet word. In die somermaande is dit hemels yskoud bedien of oor gebreekte ys. In die winter is dit ’n uitstekend saam met crème brûlée of enige ander soet nagereg. Of probeer dit as ’n Espresso Martini, ideaal enige tyd van die jaar!

 

Hier is Shannon Botes, bestuurder van die De Krans Bistro & Deli, se resep vir ’n klassieke Espresso Martini:

 

3 dele Espresso-dessertwyn

1 espresso-koffie (koud)

1 deel vodka

 

Meng die bestanddele deeglik in ’n skemerkelkiemenger en skink in ’n geskikte glas. Garneer met koffiebone en geniet!

 

Die De Krans Original Espresso is beskikbaar in ’n oulike en gerieflike 375ml-bottel en kos sowat R79. Dit is landwyd beskikbaar by die meeste winkels, asook op die plaas self. Vir meer inligting, skakel 044 213 3314 of besoek www.dekrans.co.za.

 

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>