De Krans Moscato Perlé – ’n Verfrissende Alternatief vir Vonkelwyn

Moscato, oorspronklik uit Italië waar dit as Moscato d’Asti (moscato uit die Asti-streek van Noordwes-Italië) bekend is, is ’n kultivar wat nie eintlik nuut of onbekend is in Suid-Afrika nie. Moscato is die Italiaanse naam vir muscat blanc, een van die oudste wyndruifkultivars ter wêreld.

Wyn gemaak van hierdie kultivar het egter eers meer onlangs in gewildheid begin toeneem in Suid-Afrika en De Krans se Moscato Perlé is vandag een van dié wynlandgoed se gewildste wyne. Die De Krans-privaatkelder aan die buitewyke van Calitzdorp in die Klein Karoo het die eerste Moscato-perléwyn in 2012 bekend gestel.

Wat Moscato as ’n wynstyl so aanloklik maak, is die feit dat dit relatief laag is in alkohol, matig soet is en ’n pragtige vonkel bevat. Voeg hierby ’n heerlike vrugtekarakter en jy’t ’n wenner!

Met die somer op hande – en Suid-Afrikaners se liefde vir vleisbraai, ontspan by die see of langs die swembad, of sommer net kuier saam met familie en vriende – is dit die ideale tyd om die De Krans Premium Moscato-reeks in te span om verligting te bring op die warm dae en die soel aande te vier. De Krans se Premium Moscato-wyne is nie net die ideale metgesel vir die somer nie, maar hulle sal jou ook nie platsak laat nie. Sowel die De Krans Moscato White as die Red is wyd beskikbaar by kleinhandelaars en kos slegs sowat R67 per bottel. As jy nog nie De Krans se Moscato geproe het nie, wag daar ’n aangename verrassing op jou!

Die De Krans Premium Moscato White het tipiese muskaatgeure (die wyn word van muskadel-druiwe gemaak) met tropiese vrugte soos lietsji en appelkoos, en sweempies heuning. Met ’n alkohol-inhoud van slegs 7,5% en ’n effense vonkel wat aan vonkelwyn herrinner, is hierdie Moscato die ideale alternatief vir MCC. Dis nie net die ideale aperitif nie, maar werk ook verrassend goed saam met somerslaaie, charcuterie en disse met speserye soos kerrie en wasabi.

Daarteenor spog die De Krans Premium Moscato Red met geure van vrugte soos rooi bessies en braambessies, asook met muskaat- en eksotiese speserygeure. Wat hierdie wyn uniek maak, is die feit dat pinotage by die muskadel gevoeg is om groter vrugtekompleksiteit en ’n effens droeër einde te bewerkstellig vergeleke met die Moscato White. Die Moscato Red het ’n alkohol-inhoud van 8,5% en is die ideale maat vir kaas- en vrugteborde.

Vir meer inligting of om aanlyn te bestel, besoek www.dekrans.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>