De Krans Moscato – ‘n Verfrissende Alternatief

Moscato het sy wortels in die provinsie van Asti in Noordwes-Italië waar dit sedert die 1870s verbou en gemaak word. Veel later het dit baie gewild geword in die VSA danksy die land se sogenaamde Hip Hopen Rap-kultuur, en byna 10 jaar gelede het dit voet aan wal gesit in Suid-Afrika, by wyse van spreke, waar dit onmiddellik ’n gevolg opgebou het.

De Krans se Premium Moscato-reeks is tans die markleier in dié kategorie en dis hoofsaaklik te danke aan sy gewildheid onder ’n al groter wordende mark, asook sy veelsydigheid as genotvolle drankie. Of jy nou ’n gesoute wyn-entoesias is met ’n gesofistikeerde tong, ’n nuweling tot die wyntoneel wat nuwe style uittoets of ’n voorliefde vir soeter wyne het, Moscato maak oral vriende met ’n soetheid en borrels soortgelyk aan vonkelwyn. En dit kan enige tyd en enige plek geniet word, of dit nou vir ’n noen-ontbyt is of vir aandete, en dis hoofsaaklik danksy sy lae alkohol-inhoud. Die Moscato werk ook puik as ’n bestanddeel vir ’n heerlike skemerkelkie (dink aan sangria) en is die ideale pasmaat vir speseryagtige disse soos bunny chow en soesji en wasabi.

Die De Krans Premium Moscato-reeks word ook dikwels gebruik as ’n plaasvervanger vir vonkelwyn aangesien dit meer bekostigbaar is en minder alkohol bevat. Voeg ’n bietjie van De Krans se Cape Pink (een van die landgoed se portwyne) by die White Moscato in ’n sjampanjeglas vir ’n eersteklas-verwelkomingsdrankie en beïndruk jou gaste.

De Krans Wines, geleë by Calitzdorp in die Klein Karoo  (’n streek bekend vir sy warm, droë klimaat), het daarin geslaag om hierdie tradisionele soetwyn aan te bied in ’n nuwe en opwindende manier deur sy soetheid te balanseer met kompleksiteit en varsheid terwyl daar getrou gebly is aan die karakter van sy terroir.

Die Moscato-reeks bestaan uit die Premium White Moscato Perlé, Premium Red Moscato Perlé en die jongste toevoeging, die De Krans Rosé Moscato Perlé wat vroeër vanjaar bekend gestel is. Die gedagte agter die reeks is om die fokus te laat val op die muskadel-druif wat so eie is aan die Klein Karoo, maar om dit op ’n gesofistikeerde, toeganklike en verfynde wyse aan te bied wat die muskaatgeure uitlig. Terwyl moscato verwys na die wynstyl en die kultivars wat gebruik word (Muscat de Frontignan en Muscat d’Alexandrie), verwys perlé na die ligte borrels (verkry deur effens laer druk te gebruik as in die geval van vonkelwyn) wat die wyn sy lewendige en verfrissende smaak gee. Wat die wyne ook spesiaal en verbruikervriendelik maak, is die laer alkoholvlakke van 7,5%, 8% en 8,5% onderskeidelik vir die White, Rosé en Red Moscato.

De Krans se Premium White Moscato Perlé is in 2012 vir die eerste keer gemaak en het sedertdien in gewildheid toegeneem. Hierdie natuurlike soetwyn is propvol geure van muskaat, lietsji, appelkoos en ander tropiese vrugte met sweempies heuning en eksotiese speserye. Die landgoed se Premium Red Moscato Perlé het vyf jaar later gevolg. Die wyn bevat 15% pinotage om hom sy rooi kleur te gee en verander ook die vrugteprofiel aansienlik na aromas van bessies, lietsji, sagte pruimedante en muskaat, met aarbeie, swartbessies en eksotiese speserye in die mond. Die rooi druiwe veroorsaak ook ’n komplekse mondgevoel en lewendige einde. Terwyl albei wyne heerlik en lig op hul eie is (bedien verkil), verras hulle ook met vars somerslaaie, charcuterie en speseryagtige kos soos ligte tot matige kerries. In Maart vanjaar is die langverwagte De Krans Premium Rosé Moscato Perlé bekend gestel. Rosé, as ’n kategorie, geniet steeds geweldige sukses regoor die wêreld en die Premium Rosé Moscato Perlé behels alles wat mense lief maak vir rosé – sy varsheid, sy rooivrugtekarakter en sy lewendige en dromerige kleurgelaat. Slegs ’n titsel pinotage is by die muskadel-druiwe en hanepootsap gevoeg om die De Krans Premium Rosé Moscato Perlé sy pragtige, blosende roosblaarpienk kleur te gee. Hierdie natuurlike soetwyn is propvol geure van tropiese vrugte, aarbei en spookasem, met eksotiese spesery- en muskaat-aromas en ’n gebalanseerde, vars suur.

De Krans se Moscato-reeks is by die meeste kleinhandelaars landwyd beskikbaar teen sowat R75 per bottel.

Vir meer inligting of om aanlyn te koop, besoek www.dekrans.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>