De Krans lig sluier op jongste oesjaarwyne uit gewilde ‘klassieke kultivarreeks’

De Krans buite Calitzdorp is nie net bekend vir hul bekroonde portstyl wyne nie, maar ook vir hul innoverende  benadering tot die ontwikkeling en produksie van “nuwe” wyne, ’n viering van hul unieke Klein Karoo-terroir. Afgesien van die gewilde Premium Moscato-reeks, het dié bekroonde wynmakery ook hul fokus verbreed na die produksie van boetiekstyl wyne van gehalte gemaak van klassieke kultivars.

Hierdie reeks wyne fokus op die klassieke kultivars wat algemeen in Suid- Afrika verbou word, maar met ’n unieke benadering wat in die wynmaakproses van elke wyn gevolg word.

De Krans het onlangs die jongste wyne in die reeks bekend gestel.

Met die produksie van die De Krans Free-Run Chenin Blanc 2021 word slegs die vryloopsap van die druiwe gebruik. Dit is die eerste sap wat afloop na die aanvanklike afmaal en ontstingel van die druiwe en voordat die druiwe fyn gedruk word. Hierdie proses verminder die risiko van te veel fenole in die sap en lei tot komplekse geure van ryp tropiese vrugte, piesang, koejawel, grenadella en subtiele lemmetjie. Die wyn het ’n volronde mondgevoel en struktuur, en ’n verfrissende, gebalanseerde suur. Dit pas baie goed by vars snoek, soesji, gebraaide hoender, somerslaaie en pastas.

De Krans se Wild Ferment Chardonnay 2021 is ’n ongehoute wyn met heerlike ryk, komplekse geure as gevolg van die lang gisting. Geen gis word in die begin van die proses bygevoeg nie wat lei tot natuurlike gisting oor ’n verlengde tydperk van ongeveer ses weke. Hierdie stadige gisting laat toe dat die wyn ’n komplekse karakter ontwikkel waarna dit dan nog ’n verdere ses maande op die fyn gismoer lê voordat dit gebottel word. Die wyn het ’n ligte lemmetjiegeel kleur met sitrus en botterkaramel in die neus en lemmetjie, pomelo en ’n  romerige kompleksiteit in die mond. Die wyn pas perfek by die meeste pastas en pizzas, sowel as vis soos tuna of geelstert.

Die De Krans Pinotage Rosé 2021 het ’n ligte pienk kleur met aromas van roosblaar, spookasem en aarbeie in die neus en delikate geure rooi vrugte in die mond. Dit het ’n lewendige, goed gebalanseerde suur en pas goed by somerslaaie, gebraaide kabeljou, viskoekies en snoek-patee.

De Krans se Basket Press Cabernet Sauvignon 2020 is ’n sappige en uiters “vriendelike” wyn wat uitstekend op sy eie is, maar ook goed pas by meeste pastas, pizzas en ’n tradisionele Suid-Afrikaanse braai. Alhoewel die wyn steeds die klassieke cabernet-kenmerke vertoon, het dit ’n sagte tannienstruktuur en is gemaak om reeds op ’n vroeë ouderdom geniet te word. Hierdie sagte tannienstruktuur is as gevolg van die gebruik van ’n groot mandjiepers, ingevoer vanaf Frankryk in die 1950s, wat oorspronklik gebruik is vir vonkelwyn. Die grootste gedeelte van hierdie wyn word verouder in ouer Franse eikehoutvate en ’n klein deel in betontenke met Franse eikehoutstafies vir ongeveer 12 maande voodat dit gebottel word. Die wyn het heerlike geure van ryp bessies, cassis, sederspeserye en vars dadels in die neus, met pruime, moerbeie, donker kersies en kersie-sigaar op die tong.

Die wyne is beskikbaar teen sowat R74 vir die Free-Run Chenin Blanc en die Pinotage Rosé, en R79 vir die Wild Ferment Chardonnay en Basket Press Cabernet Sauvignon.

Vir meer inligting, besoek gerus www.dekrans.co.za en volg De Krans op sosiale media.

EINDE

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>