De Krans kyk terug op ‘n baie suksesvolle jaar

Date posted:
December 12, 2011

De Krans-wynkelder net buite Calitzdorp, reeds landwyd en oor die wêreld heen bekend as een van Suid-Afrika se voorste portprodusente, het ‘n buitengewone jaar beleef deur talle plaaslike en internasionale toekennings in te palm.

 

Die landgoed se Cape Vintage Reserve Port 2009 het ‘n vyfstergradering van die gesaghebbende en internasionaal erkende Platter’s South African Wine Guide 2012 ontvang – een van slegs 45 uit meer as 7 000 wyne beoordeel! Dit is die sewende jaar agtereenvolgens dat De Krans ‘n vyfstergradering ontvang het.

 

Die De Krans White Muscadel Jerepigo is aangewys as die SA kampioenmuskadel op die Suid-Afrikaanse Jongwynskou, die tweede keer in vier jaar dat De Krans hierdie gesogte trofee gewen het. Op dieselfde skou is De Krans ook beloon met ‘n klaswen vir sy Vintage Port.

 

Hoewel hierdie wynplaas hoofsaaklik bekend is vir sy portwyne, het hy vanjaar trofeë vir sy Sauvignon Blanc en Shiraz ontvang op die Klein Karoo Jongwynskou. Die Sauvignon Blanc, onder die Garden Route-etiket, kos R45 per bottel by die kelder, terwyl die 2011- Garden Route Shiraz volgende jaar bekend gestel word. De Krans is ook aangewys as die Kampioen Privaatkelder op dieselfde skou.

 

Al die wynkelders in die Klein Karoo/Suid-Kaap neem deel aan die jaarlikse Suid-Kaapse Gebottelde Wynskou, wat uniek is, en vir die vierde agtereenvolgende jaar is De Krans as die Kampioen Wynkelder aangewys. De Krans se Cape Vintage Reserve Port 2009 is weer eens aangewys as die skou se Algehele Kampioen. Die kelder se vrugtige, droë Cabernet Sauvignon Rosé 2011 het ook puik gevaar en het die titel Beste Rosé ingepalm.

 

De Krans het ook puik gevaar op vanjaar se Michelangelo International Wine Awards en met die Grand D’Or (dubbel goud) vir sy welbekende Cape Tawny Port weg geloop, asook met goud vir sy 2011- White Muscadel Jerepigo en sy 2008- Cape Vintage Reserve Port.

 

En op Veritas het De Krans sy segetog voort gesit met goue medaljes vir sy 2009- Cape Vintage Reserve Port, sy 2011- White Muscadel Jerepigo en sy Vintage Reserve Port 2001 in die Museumklas (wyne 10 jaar en ouer). Verder is die De Krans Vintage Reserve Port 2003 op vanjaar se Nederburg-veiling verkoop vir meer as R300 per bottel. Dit bewys weer eens dat De Krans nie net port maak met puik verouderingspotensiaal nie, maar wat ook ‘n goeie belegging bied.

 

Drie van De Krans se wyne word gelys in die Waarde vir Geld-toekennings van die tydskrif WINE se jaarlikse beoordeling. Hulle is die Relishing Red (‘n gewilde braaivleiswyn), die 2010- Tinta Mocha (‘n heerlike koffiestyl-rooiwyn) en die Cape Ruby Port (vierstergradering in die Platter-wyngids).

 

Hul bekroonde Cape Tawny Port het 92/100 ontvang by die wêreldbekende wynskrywer, Robert Parker, wat die wyn vir die vooraanstaande Amerikaanse wynpublikasie, Wine Advocate, beoordeel het. Dit is die hoogste punt wat aan ‘n Suid-Afrikaanse port toegeken is. Die 2008- Cape Vintage Reserve Port het 90/100 aangeteken en die Cape Ruby Port 88/100.

 

De Krans se Cape Tawny Port en Cape Vintage Reserve Port 2008 het albei die lys van die Top 100 wyne in Suid-Afrika vir 2011 gehaal.

 

Van die agt portwyne wat vier sterre of meer in die jaarlikse WINE Magazine Portproe ontvang het, het drie van De Krans gekom. Dit was die 2007- Cape Vintage Reserve Port (4½ sterre), die 2008- Cape Vintage Port (4½ sterre) en die Cape Vintage Reserve Port 2008 (4 sterre).

 

“Ons is baie verheug oor al die erkenning wat ons maar net weer eens bevestig as leiers binne die Suid-Afrikaanse portbedryf,” sê Boets Nel, die wynmaker.

 

Vir meer inligting oor hierdie of enige van die ander ports en gewone wyne in die De Krans-reeks, beskikbaar landwyd by die meeste drankwinkels en uitgevoer na 14 lande wêreldwyd, kontak gerus vir Helet Viljoen of Bessie Swanepoel op die plaas by 044 213 3314 of stuur ‘n epos aan dekrans@mweb.co.za, of besoek www.dekrans.co.za.

 

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram