De Krans kraai (weer) koning met top toekennings!

Die De Krans-privaatkelder aan die buitewyke van Calitzdorp in die Klein Karoo het weer eens bewys hoekom hy as een van Suid-Afrika se voorste portprodusente beskou word deur meer as 90 uit ’n moontlike 100 punte te behaal vir twee van sy produkte in vanjaar se South African Wine Index (SAWi)-beoordeling … en volpunte vir ’n derde! De Krans se Cape Vintage Reserve (bo) het ’n ongelooflike 100 punte aangeteken, terwyl sy Cape Tawny Ltd Release 96,5 en die Touriga Nacional 2017 94,8 punte toegeken is.

Die SAWi is in 2009 geskep met die doel om op ’n onafhanklike wyse Suid-Afrika se beste wyne te identifiseer. Die kompetisie se unieke “algoritme vir uitnemendheid” word toegepas om die vertonings van individuele wyne te meet oor veelvuldige oesjare. Dit vergelyk en vat die uitslae saam van meer as 100 multi-nasionale kompetisies, inskrywings en resensies, asook enige bykomende lofbetuigings wat wyne ontvang het, en druk dit uit in ’n syfer uit 100.

SAWi se puntetoekennings, wat gebaseer is op die gesamentlike wysheid van bedryfskenners en prominente rolspelers en persoonlike voor- en afkeure uitsluit, bied aan wynliefhebbers ’n akkurate maatstaf van volhoubare wyngehalte wat oor drie tot tien jaar strek.

De Krans se Touriga Nacional (regs) word gemaak van druiwe wat op die plaas verbou word en is vir 12 maande in Franse eikehoutvate verouder. Met sy diep, donker kleur stel die wyn intense geure van braambessies, viooltjies en speserye vry. Louis van der Riet, die wynmaker, stel voor hierdie bekroonde wyn word bedien met sappige volstruisfilet of enige ander wildsvleisgereg. Die De Krans Touriga Nacional 2017 kos sowat R135 per bottel.

Die Cape Vintage Reserve, gemaak van verskeie Portugese kultivars, is vir 22 maande lank in houtvate verouder en sal, volgens Louis, sy beste voet voorsit as dit vir nog so 20 tot 30 jaar in die bottel gelos word. Die portwyn het ’n diep, donker rooi kleur en stel aromas van viooltjies, rooi bessies, vanielje en donker sjokolade in die neus vry, terwyl die mond betower word met heerlike geure van rooi vrugte, gedroogde pruimedante en kakao. Geniet hom op sy eie in die kouer maande of saam met gebakte nageregte, of kombineer dit met ’n sous vir jou gunsteling-nagereg. Hierdie portwyn werk ook puik met verouderde kase en kos sowat R375 per bottel.

De Krans se Cape Tawny Ltd Release (links) met sy pragtige oranje-saffierkleur bied aanloklike aromas van lemoenskil, karamel, neute en toffie. Hierdie geure word na die mond deurgedra met die verrassende byvoeging van vrugtekoekgeure. Hierdie is die ideale portwyn om op sy eie te geniet of saam met tuisgebakte winterpoeding. Dit kos sowat R235 per bottel.

Vir meer inligting, besoek www.dekrans.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>