De Krans gaan ‘aan’t bloos’ tydens die maand van liefde!

Valentynsdag (en die maand van liefde) gaan hand aan hand met alles wat ’n pienk blos het. Met dit in gedagte is dit dalk ’n goeie idee om die romanse terug te bring tydens die maand van liefde met De Krans se reeks pienk wyne, of dit nou sy Cape Pink (’n ligter portstylwyn) is of die landgoed se Pinotage Rosé 2018.

Die De Krans Cape Pink (foto bo), wat in 2008 die eerste keer die lig gesien het in Suid-Afrika, het oor die afgelope dekade sterk in gewildheid toegeneem onder portwynliefhebbers vanweë sy blosende pienk kleur, geurprofiel en veelsydigheid, en is die ideale “romanse in ’n glas” om in Februarie met ’n beminde te deel. Die Cape Pink word van die tradisionele Portugese kultivars Touriga Nacional, Tinta Barocca en Tinta Amarela gemaak, in ’n ligter styl, en stel geure van vars en ryp rooibessies ten toon. Dit spog met ’n talmende nasmaak en is op sy beste verkoel of oor ys.

De Krans se Cape Pink maak natuurlik ook smaaklike skemerkelkies vir ’n romantiese geleentheid. Hier is twee van De Krans se gunstelinge wat enige romantiese Valentynsgeleentheid op ’n hoë noot sal laat afskop:

Ginger Up

Skink De Krans Cape Pink in ’n bolglas oor gebreekte ys, voeg ’n skeut jenewer by, ’n spatsel bitterwyn en gemmerbier, en siedaar, jy het die ideale dorslesser vir die somer!

Pink Sunset

Skink De Krans Cape Pink en verkilde ystee in gelyke hoeveelhede in ’n lang glas oor ys, voeg gesnyde aarbeie by en jy’t die ideale “ysbreker”!

De Krans se boetiekstyl Rosé (bo), wat deel uitmaak van die landgoed se klassieke kultivarreeks, is in lyn met die hernude passie vir en belangstelling in hierdie wynstyl in Suid-Afrika, die tweede gewildste wynstyl in Frankryk. Louis van der Riet, die wynmaker op De Krans, beskryf die De Krans Pinotage Rosé 2018 as propvol rooivrugtegeure en ’n gebalanseerde suur wat ’n heerlike varsheid tot gevolg het. Die ligte waatlemoenkleur van die wyn dra by tot sy gewildheid.

Hierdie droë wyn is puik op sy eie, maar werk ook uitstekend met vars somerslaaie, lig geroosterde visdisse en pastageregte. Hierdie Rosé is nie net gewild onder wynliefhebbers nie, maar skynbaar ook onder wynkenners aangesien dit ’n dubbelgoue medalje op die kompetisie Rosé Rocks 2018 ingepalm het.

Sowel De Krans se Cape Pink as sy Pinotage Rosé 2018 is op die landgoed buite Calitzdorp beskikbaar, asook landwyd by uitgesoekte handelaars. Eersgenoemde kom in twee groottes, die 375ml wat R54 kos en uitsluitlik op die plaas beskikbaar is en die 750ml wat R85 kos. Die Pinotage Rosé kos sowat R69.

Vir meer inligting oor hierdie en De Krans se ander port- en tafelwyne, besoek www.dekrans.co.za.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>