De Krans doen dit weer … hierdie keer op Veritas!

En daar doen De Krans dit toe weer! Hierdie keer is dit die gesaghebbende Veritas-kompetisie wat Suid-Afrika se voorste portprodusent lof toegeswaai het met die toekenning van ’n dubbelgoue medalje aan De Krans se Cape Vintage Reserve 2015.

De Krans se Reserve-reeks is beslis portwyne om dop te hou aangesien die landgoed se Cape Vintage Reserve 2016 ’n goue medalje op Veritas 2018 ontvang het. En om die kroon te span op hierdie twee portwyne se suksesverhaal het albei verlede maand met Platinum-toekennings weg geloop by vanjaar se Michelangelo International Wine Awards. Maar dis nie waar die lofliedere ophou nie! Die Cape Vintage Reserve 2016 het vanjaar ook ’n uitsonderlike 96 uit ’n moontlike 100 punte ontvang by die gesiene Britse wynkenner Tim Atkin MW.

De Krans se wynmaker, Louis van der Riet, beskryf die Cape Vintage Reserve as ’n “groot wyn” vol geure van ryp donker vrugte soos pruim, moerbei en swartbessie. Dis ’n goed afgeronde portwyn wat ook sweempies donker sjokolade en ferm tanniene ten toon stel, wat dit in staat stel om tot meer as 30 jaar te verouder.

Die Veritas-kompetisie word beskou as Suid-Afrika se vernaamste wyn- en brandewyn-kompetisie. Vanjaar is 1 677 inskrywings ontvang waarvan 50 Dubbelgoud en 219 Goud toegeken is. Ses prominente beoordelaars van regoor die wêreld het vanjaar se inskrywings beoordeel, naamlik Janåke Johansson en Nikita Nördstrom (albei van Swede), Joe Wadsack en Richard Kelley MW (albei van die VK), Tersina Shieh (Hong Kong) en Treve Ring (Kanada).

“Met die Klein Karoo in die greep van die ergste droogte op rekord, is die erkenning wat ons op sowel die plaaslike as die internasionale front ontvang van geweldige waarde vir die span op De Krans, en dit spoor ons aan om positief te wees en voort te gaan en die heel beste uit ons druiwe te haal,” sê Boets Nel, die landgoed se mede-eienaar.

Vir meer inligting oor De Krans se veelbekroonde portwyne, besoek www.dekrans.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>