De Grendel onthul eerste Bordeaux-versnit

Date posted:
September 22, 2009

'n Lank gekoesterde droom van Sir David Graaff, eienaar van die historiese plaas, De Grendel, aan die voet van die Tygerberg-heuwels op die Durbanville-wynroete, om 'n premie- Bordeaux-styl rooi versnit  te maak, is uiteindelik bewaarheid.

 

Die wyn, De Grendel Rubaiyat, is 'n versnit van hoofsaaklik cabernet sauvignon met malbec, merlot en cabernet franc. Die malbec, merlot en cabernet franc is van De Grendel se eie 100 hektaar-wingerd wat nagenoeg 'n dekade terug gevestig is op die westelike hange van die plaas wat oor Tafelberg en die Atlantiese Oseaan uitkyk. Die cabernet kom van 'n vier hektaar-wingerd in Firgrove, slegs ses kilometer van Valsbaai aan die voet van die Helderberg by Stellenbosch.

 

“Toe Sir David die eerste maal gepraat het oor sy begeerte vir 'n ernstige Bordeaux-versnit, het ek gesê daardie kwaliteit is 'n roeping uit die wingerd,” sê De Grendel se keldermeester, Charles Hopkins. “Slegs volwasse wingerd wat goed aangepas is, 'n natuurlike balans bereik het en vanselfsprekend 'n lae opbrengs sonder enige oesbeheer lewer, sal die styl en kwaliteit wat ons soek, voortbring.”

 

Met merlot en sauvignon blanc as De Grendel se ikoniese druifsoorte, het Hopkins sy  soektog begin om De Grendel se Bordeaux-versnit te anker. Dié wingerd het hy gevind in die Firgrove-heuwels, 'n gebied bekend vir van die Kaap se beste rooi druiwe. Dié gesonde, 33 jaar-oue bosstokwingerd is gewortel in diep, gebroke, ouklip-grond onder 'n ligte bogrond, en lewer 'n opbrengs van minder as vier ton per hektaar met minimale wingerdbou-inmenging. 'n Gemiddelde bessievrug-gewig van minder as een gram sorg vir buitengewone hoë geurkonsentrasie.

 

 

Links: Sir David Graaff by sy lank gekoesterde Rubaiyat. G'n wonder hy lyk so in sy noppies nie!

 

Elke druifsoort word afsonderlik berei. 'n Gedeelte van elkeen word in oop gistenks berei met gereelde deurdruk deur 'n pneumatiese sisteem om hoë ekstraksie van die fenoliese komponente (insluitend kleur, tannien en geur) te verkry. Die res word op die doppe gegis in 'n toe tenk met gereelde sagte oorpomp vir sagte tanniene. Albei porsies word dan saam gepers in 'n mandjie-pers waarna dit in klein, nuwe Franse eikehoutvate gaan vir appelmelksuurgisting (om die natuurlike suur te versag). Hierna word dit verskeie kere oorgetap en vir 'n verdere ses maande in die vate gelos. Die komponente word dan geproe en getoets in verskeie kombinasies deur Hopkins, die wynmaker, Elzette du Preez, en die res van die span voor 'n finale versnit gekies word om in klein, nuwe Franse eikehoutvate vir 'n verdere 12 maande of meer te verouder.

 

Die resultaat, soos gesien kan word by die 2006-oesjaar, is 'n wyn met 'n diep kleur en 'n rare varsheid en suiwerheid van vrug in die neus en mond. Aromas en geure van swartbessie en cassis domineer met subtiele ondertone van sjokolade, 'n titseltjie kruisement en 'n delikate speserygeur wat kompleksiteit verleen. Die wyn is ferm gestruktureerd met mooi, droë tanniene vir langlewendheid wat steeds sag genoeg is vir 'n jeugdige aantrekkingskrag.

 

Ten spyte van verlengde vatveroudering in nuwe eikehout, is die fenoliese rypheid van die druiwe van volwasse wingerde wat in natuurlike balans is die sleutel tot 'n subtiele houteffek in die wyn, sê Hopkins, bekend vir sy renons in die oorgebruik van nuwe eikehout. Hopkins is 'n veteraan met reeds 20 oesseisoene agter die blad en, soos Sir David Graaff, 'n aartsliefhebber van rooi Bordeaux.

 

 

Regs: Charles Hopkins, keldermeester op De Grendel en die "breins" agter Rubaiyat.

 

Die naam Rubaiyat is die Persiese woord vir 'n kwatryn: 'n stansa (vers) wat uit vier reëls bestaan (wat die vier druifsoorte in die versnit weerspieël). Inspirasie vir die naam van die Bordeaux-stylversnit het sy ontstaan in die vorm van die Graaf-familie se goedbewaarde uitgawe van die 19de-eeuse Engelse vertaling van 'n liriese gedig deur Omar Khayyam. Die 11de-eeuse Persiese astroloog en wiskundige het graag oor die lewe se groot vraagstukke gepeins. Edward FitzGerald se 1859-boek, The Rubaiyat of Omar Khayyam, het slegs 'n fraksie van die 750 verse van die oorspronklike gedig ingesluit. Dit was egter genoeg om die verbeelding van die Westerse wêreld aan te gryp met die prikkelende en uitlokkende sentimente wat aanklank gevind het – eerstens by die gesofistikeerde, Victoriaanse Engeland vir die bisarre en daarna by die 1920s se intellektuele Flapper-generasie wat in ‘n sensuele leefstyl ontvlug het tussen die twee Wêreld-oorloë. Dit is juis in hierdie tyd dat Sir David Graaff se oupa, eienaar van die vroeë 18de-eeuse plaas De Grendel, sy kopie van die boek – in rooi sweedse leer oorgetrek - bekom het.

 

Die eerste, 2006-oesjaar van die De Grendel Rubaiyat bevat 'n spesiaal gekose kwatryn van The Rubaiyat of Omar Khayyam in delikate skrif op die etiket.

 

“And lately, by the Tavern Door agape,

Came shining through the Dusk an Angel Shape

Bearing a Vessel on his Shoulder; and

He bid met taste of it; and ‘twas the Grape!”

 

Opvolg-oesjare sal elkeen met 'n ander kwatryn spog. Die 2007 is reeds gebotteleer en sal vroeg volgende jaar uitgereik word ter viering van Sir David Graaff se 70ste verjaarsdag. Die 2008 en 2009 is albei steeds in die vate en sal eers gebotteleer word “wanneer dit reg is”, dring die keldermeester aan. Die wyn word gemaak in klein hoeveelhede, slegs 350 kiste van 12 bottels elk is beskikbaar by die kelder se proelokaal, asook by uitgesoekte spesialiswynwinkels landwyd teen R240 per bottel.

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram