De Grendel Brut getuig van elegansie

Date posted:
November 11, 2009

Met die bekendstelling van De Grendel Brut 2007, ‘n Méthode Cap Classique, onthul hierdie wynplaas teen die hange van die Tygerberg-heuwels ‘n eg vroulike kant.

 

Dit het als so twee jaar gelede begin toe Sir David Graaff, eienaar van die historiese landgoed met sy asemrowende uitsig op Tafelberg en Tafelbaai, kajuitraad gehou het met sy keldermeester, Charles Hopkins. Die wingerde wat oor die see uitkyk sou binnekort begin vrug dra en die lang, delikate proses om ‘n besonder kosbare wyn te maak, het begin. Hierdie keer sou ‘n vrou die leiding neem, want alleenlik ‘n vrou se hand sou deug vir De Grendel se volgende stap.

 

Op daardie stadium het ‘n handvol gehaltewyne, rooi en wit, toe reeds onder die De Grendel-vaandel verskyn. Die Feng Shui-filosofie van Chinese gebou-ontwerp is ook van meet af in die wynkelder toegepas vir harmonie om die negatiewe “yin” te balanseer met die positiewe “yang”. Die sprankelende, nuwe, vroulike toevoeging sou as kontrapunt dien vir die manlike.

 

Dit was toe dat Hopkins, wat reeds 23 oesjare agter die rug het, die taak aan wynmaker Elzette du Preez oorgedra het met die woorde:  “Hierdie is nou jóú baba!” Nou, na twee jaar se noukeurige beplanning, voortdurende waaksaamheid en moederlike versorging, het Elzette se baba, die De Grendel Brut 2007, “haar” debuut gemaak.

 

Die klassieke vonkelwyn staan van kop tot toon vir als wat vroulik is – van haar delikate pêrelhalsnoer-borrels tot haar aromas en smake van vars appels, pikante sitrus en pas-gebakte beskuitjies. Die donkergroen antieke-styl bottel is sag gerond en slank van nek, getooi in ‘n subtiele kombinasie van sagte silwergoud en duifgrys. Die sexy satynswart muselet sorg vir ‘n verdere tikkie drama aan die Brut se bottelgewaad.

 

Die eerste oesjaar De Grendel Brut 2007 is gemaak van 68% chardonnay en 32% pinot noir. Die trosse is heel gepars om ‘n baie elegante wyn te verseker. Na die aanvanklike fermentasie in die tenk, is die wyn gebottel en daarna is die tweede fermentasie in die bottel voortgesit – ‘n ware Méthode Cap Classique.  Die wyn is in die bottel op die moer gehou vir ‘n verdere 16 maande om kompleksitiet te verseker met vrugte- en beskuitjiegeure. Daarna het dégorgement en ‘n verdere 10 maande kelderveroudering plaas gevind.

 

Hierdie De Grendel Brut Méthode Cap Classique-dame is nie net ‘n elegant dame nie, maar ook eksklusief, met slegs 1 172 bottels van die 2007-oesjaar wat vrygestel is. Dit is te koop by die wynplaas teen R140 per bottel. 

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram