Darling Cellars toon sy staal op internasionale verhoog

Date posted:
November 9, 2011

Darling Cellars, geleë in die koel Weskus-wyndistrik van Darling (wat die veelgeroemde Groenekloof-wyk insluit), het vanjaar sy trofeekas aansienlik uitgebrei met nie minder nie as agt silwer medaljes op vanjaar se International Wine & Spirit Competition (IWSC) in Londen. Die Darling Cellars Reserve Black Granite Shiraz 2010 het die beste in sy klas gevaar.

 

Drie wyne uit die vlagskipreeks, Darling Cellars Limited Release, het silwer los geslaan, asook drie wyne uit die Darling Cellars Premium-reeks en twee uit die Darling Cellars Reserve-reeks.

 

Die bekroonde wyne is:

 

Limited Release-reeks (slegs by die kelder beskikbaar)

        Darling Cellars Lime Kilns 2010 – ‘n versnit van chenin blanc, chardonnay en viognier, in die vat gegis en verouder – kelderprys R99;

        Darling Cellars Blanc de Blanc Brut 2008 – 100% chardonnay – kelderprys R99;

        Sir Charles Henry Darling 2008 – ‘n versnit van cabernet sauvignon, cabernet franc, merlot en petit verdot – kelderprys R125.

 

Premium-reeks

        Darling Cellars Premium Shiraz 2008 – kos sowat R99;

        Darling Cellars Premium Sauvignon Blanc 2010 – kos sowat R80;

        Darling Cellars Premium Noble Late Harvest 2010 – ‘n versnit van chenin blanc en weisser riesling – kos sowat R117.

 

Reserve-reeks

        Darling Cellars Reserve Black Granite Shiraz 2010 –beste in klas – kos sowat R58;

        Darling Cellars Reserve Bush Vine Sauvignon Blanc 2011 – kos sowat R48.

 

Die IWSC is in 1969 gestig en word as die voorste kompetisie van sy soort op die internasionale verhoog beskou. Sy doel is die bevordering van gehalte en uitnemendheid onder die wêreld se beste wyne, spiritualieë en likeurs. Die beoordeling, wat in twee stadiums plaasvind, is uiters straf en bestaan uit “blinde” proeë en volledige chemiese en mikrobiologiese ontledings.

 

Darling Cellars kry al hoe meer erkenning vir sy koelklimaatwyne. Die meeste van sy 20 aandeelhouers het wingerde naby die Atlantiese Oseaan. Die koel seebriese uit die rigting van die koue seewater help die wingerde afkoel.  Diep, waterhoudende grondsoorte maak hierdie heuwelagtige area van die Weskus ‘n top wynbougebied. Sedert die afbakening van Darling as ‘n Wyn van Oorsprong-distrik in 2003, konsentreer Darling Cellars op die maak van wyn wat die terrein en die kultivars weerspieël. Byna al die wingerde wat Darling Cellars voorsien, is droëland-bosstokwingerde wat hulle so natuurlik maak as wat mens kan kry. Druiwe uit hierdie wingerde maak die kenmerkendste wyne.

 

Abé Beukes, Darling Cellars se keldermeester, is so entoesiasties soos altyd. “Hierdie jongste toekennings bevestig Darling Cellars se verbintenis tot wyn van gehalte  en wyne wat ‘n sin vir plek het. Ons wyne toon gekonsentreerde vrugte en weerspieël die unieke koelklimaatterrein van die Weskus. Ons probeer elke jaar dit wat die natuur ons bied met passie in die bottel sit.”

 

Vir meer inligting, kontak Darling Cellars by +27 (0)22 492 2276 of info@darlingcellars.co.za, of besoek www.darlingcellars.co.za.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram