Dalla Cia-vennootskap slaan top Amerikaanse toekenning los

Date posted:
October 5, 2011

Giorgio en George Dalla Cia, die passievolle pa-en-seun- wyn- en grappa-duo, het vanjaar se toonaangewende Wine Spectator Award of Excellence verower met hul heel eerste samewerkingsooreenkoms wat Suid-Afrikaanse wyne aan top vyfster-instellings in Afrika beskikbaar stel.

 

Die vyfster- Sankara Nairobi het, danksy die suksesvolle vennootskap met Dalla Cia, die hoogs gesogte Restaurant Wine List Awards van die gesaghebbende Wine Spectator-tydskrif in die VSA ontvang en is die eerste hotel in Sentraal- en Oos-Afrika om met hierdie toekenning vereer te word. Om aan die groeiende belangstelling in wyn in Kenia te voldoen, het die Sankara Nairobi hulle geloof in die Dalla Cia-kundigheid geplaas om ‘n wêreldklas-wynlys vir hul stylvolle restaurant en wynkroeg, The Gallery, op te stel, asook om die wyne te verkry.

 

"Ons is baie trots daarop om geassosieer te word met die Sankara Nairobi. Deur hul visie en toewyding het ons saam ‘n beslissende platform vir wynwaardering in Sentraal-Afrika gestig. Om hierdie gesogte toekening van Wine Spectator vir die wynlys wat deur ons saamgestel is, te verkry, is 'n fenomenale prestasie," sê George Dalla Cia.

 

Hy skryf 'n groot deel van hul sukses met hul uitstekende wyne toe aan die goeie verhoudinge wat hulle oor die jare opgebou het met mede-Suid-Afrikaanse wynprodusente.

 

"As wynprodusente het hierdie geleentheid ons oë wawyd oop gemaak en bevestig dat daar wel potensiële besigheid reg op ons eie drumpel is. Ons doel is om hierdie model verder te vat deur ‘n totale wynoplossing te bied vir top hotelle in ander Afrika-lande,” het hy bygevoeg.

 

Die jaarlikse Wine Spectator Restaurant Wine List Awards gee erkenning aan restaurante en kroeë oor die hele wêreld vir uitsonderlike wynlyste wat aan ‘n groot verskeidenheid in terme van gehalte en smaak voldoen.

 

In die samestelling van The Gallery se eksklusiewe wynlys van meer as 200 verskillende wyne, waarvan die meeste nie elders in Kenia beskikbaar is nie, het die Dalla Cia’s gefokus op uitsonderlike gehalte, egtheid en waarde vir geld. Terwyl top Suid-Afrikaanse wyne die glanspunt op die lys is, word wyne van ander wêreldstreke, insluitend Frankryk, Italië, Australië en Nieu-Seeland, ook verteenwoordig.

 

Buiten die soektog na nuwe markte in Afrika vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf, is die Dalla Cia’s ook betrokke by die opleiding en uitruiling van sjefs en sommeliers, sowel as die reëling van gourmet-wynaande met verskeie wynmakers en wynlandgoedere.

 

Om in aanmerking te kom vir die gesogte Wine Spectator Restaurant Wine List Awards wat meer as 5 000 deelnemers vanjaar gelok het, moes voorleggings van huidige wynlyste inligting oor die wyne en hul produsente, sowel as meegaande kosspyskaarte insluit.

 

Vir meer inligting oor die Dalla Cia’s se nuwe Wynlys-konsultasiediens, skakel die Dalla Cia Wine & Spirit Company by 021-888-4120 of besoek www.dallacia.com.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram