Daar’s ’n hunkering na die ‘inheemse’, die ‘onbekende’

Namate wynliefhebbers wêreldwyd toenemend belangstelling in tradisionele kultivars verloor, is daar tegelykertyd ’n groeiende neiging na inheemse wyndruifsoorte van reg rondom die wêreld. Die globale wynmark is besig om te verander van een wat afhanklik is van ’n handvol hoofsaaklik Franse “internasionale” druifsoorte soos cabernet sauvignon en chardonnay tot een wat toenemend gefassineer word deur alternatiewes – en hoe meer plaaslik en onbekend, hoe beter!

“Wynliefhebbers reg rondom die wêreld is besig om vereeld te raak met tradisionele Franse kultivars soos cabernet sauvignon en chardonnay,” sê Lynne Sherriff (MW). “Tans sien ons hoe syrah uit Chile, zinfandel uit Kalifornië, tempranillo uit Spanje en selfs Suid-Afrika se pinotage besig is om toe te neem in die globale mark. Daar’s ’n toenemende dors na inheemse druifsoorte regoor die wêreld.”

Terwyl die wêreld se groot wynproduserende lande sal voortgaan om die bekende en gesogte wyne in 2019 en 2020 te maak en bemark, is ’n lewendige belangstelling in minder bekende streke en inheemse druifsoorte besig om stadig maar seker die hoofstroom te infiltreer. Daar is reeds heelwat bewys hiervan op rakke en wynlyste waar die bekende kultivars al hoe meer ruimte moet deel met veelvuldige kultivars uit ’n al hoe groterwordende lys lande.

Druiweboere wêreldwyd stel al hoe meer belang daarin om hul wingerdboukundige erfenis terug te wen, aldus Jancis Robinson (MW). “Lank vergete kultivars wat miskien nie weer aangeplant is sedert die phylloxera-ramp wat aan die einde van die 19de eeu voorgekom het nie, is nou weer in die kollig. Of miskien is hulle gelos omdat hul opbrengs per hektaar te laag was in die na-oorlogse periode toe kwantiteit belangriker as kwaliteit was.”

Toe Robinson, Julia Harding (MW) en José Vouillamoz die boek Wine Grapes in 2012 gepubliseer het, was daar 1 368 druifsoorte waarvan wyn kommersieel gemaak is. Sy sê as die boek vandag gepubliseer sou word, sou dit minstens 1 450 druifsoorte insluit.

Garganega uit Veneto.

“Onbekendheid alleen is nie genoeg vir ’n  kultivar om gehuldig te word nie,” sê Robinson. “Die wyn wat daarvan gemaak word, moet goed wees.”

’n Studie wat in 2018 deur die Sonoma State University oor die gewoontes van Amerikaanse wynverbruikers gedoen is,  het getoon dat hulle al hoe meer daarin belang stel om minder bekende kultivars te verken en ontdek, en dat diversiteit en kompetisie die deur oopmaak vir onbekende streke. Die studie het bevind dat wyne uit byvoorbeeld Griekeland, Oostenryk, Slovenië, Slovakië en Portugal in die komende jare verbruikers se behoefte aan iets nuuts sal bevredig.

Van die mees aktiewe “wingerdstokherwinning” vind in Italië plaas wat met sy vele wynstreke ’n besonder belowende kweekbedding bied vir diegene wat nuwigheid in die wingerd soek, aldus Robinson.  “Die standaard-metode is om plaaslike wingerde versigtig te ondersoek om ‘deugniet-wingerdstokke’ te identifiseer. Sommige ouer boere kan nog wingerdstokke herken en noem waarvan die druiwe destyds anoniem versny is met meer gevestigde druiwe voordat kultivar-diversiteit mode geword het.”

As mens byvoorbeeld verder as Toskane en Piedmont kyk, vind mens ’n neiging na inheemse druifsoorte, veral wit. Van garganega in Veneto tot nero d’avola in Sicilië is daar geen tekort aan interessante druifsoorte wat wyne met ware herkoms skep nie.

Fiano is ’n Italiaanse kultivar wat veral goed vaar. In Italië het die afset van wyn gemaak van hierdie druifsoort vanjaar met 63% gestyg teenoor die vorige jaar.

Petit Arvine uit Switserland.

Die Switsers het ook groot vooruitgang gemaak deur hul wingerdboukundige geskiedenis op te delf en kultivars soos petite arvine, amigne, cornalin en completer na vore te bring.

In Portugal is daar so baie inheemse kultivars om uit te kies dat verdere navorsing nie so belangrik geag word nie, maar in Spanje is druiweboere hard aan’t werk om die reeks kultivars vir kommersiële produksie uit te brei.

Dit sal Suid-Afrika se wynbedryf dus baat deur kers op te steek by bogenoemde lande en te soek na onbekende of minder bekende kultivars wat ’n langtermyntoekoms hier het.

In sy 2019-verslag oor die Suid-Afrikaanse wynbedryf het die bekende Tim Atkin MW die “enorme potensiaal” van kultivars soos albariño, agiorgitiko, assyrtiko, furmint, grenache blanc, grenache noir, malbec, mourvèdre, petit verdot, roussanne en verdelho uitgewys.

“Dit is hoog tyd dat Suid-Afrika sy verskeidenheid druifsoorte vir wyn vergroot,” het hy geskryf.

Die toekoms van die Suid-Afrikaanse wynbedryf lyk interessant … en uitdagend. Dis nie vir die lig in die broek nie, en die volgende paar jaar sal die manne van die seuns skei.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>