Constantia Glen se rooies spog met eiesoortigheid

Date posted:
May 5, 2011

Constantia Glen, die manjifieke boetiek-wynlandgoed wat hoog teen die hange van die Constantiaberg geleë is, maak twee klassieke Bordeaux-versnitwyne wat gevorm word deur sy uitsonderlike koel klimaat en sonnige wingerde.

 

Dié twee wyne, wat onlangs hernoem is na onderskeidelik Constantia Glen Three en Constantia Glen Five volgens die hoeveelheid Bordeaux-kultivars in elk, vekry hul besonderse elegansie en kompleksiteit van die sonderlinge ligging van Constantia Glen se wingerde en die byna magiese, verlengde sonligure wat hulle net onder Constantianek kry.

 

“Hierdie spesifieke laagte in die landskap bied 'n ongelooflike bonus aan die wingerde wanneer die somerson in die weste ondergaan en die Constantiaberg sy alomteenwoordige skaduwee oor die vrugbare Constantia-vallei gooi,” sê die wynmaker, Karl Lambour.

 

Anders as die res van die vallei, laat die Nek ekstra sonlig toe op Constantia Glen se wingerde wat die suksesvolle en egalige rypwording van die klassieke Bordeaux-rooidruifsoorte in hierdie besonderse koel wynboustreek verseker.

 

“Die gebruik van die name Three en Five bied 'n eenvoudige verduideliking oor die versnit se komponente siende dat ons in wyne in die Bordeaux-styl spesialiseer. Die Three verwys na die drie klassieke Bordeaux-druifsoorte cabernet sauvignon, cabernet franc en merlot, terwyl die Five verwys na die bykomende insluiting van petit verdot en malbec – almal klassieke rooidruifsoorte wat in Bordeaux verbou word,” verduidelik Karl.

 

Alhoewel albei hierdie grasieuse rooies as Bordeaux-stylversnitte gekenmerk word, gee elk uiting aan sy eiesoortige karakter en sonderlinge bekoring soos verkry van die individuele wingerdblokke waar die druiwe uitgesoek is, asook die diverse benadering in die kelder.

 

Die Constantia Glen Three 2007, wat voorheen bekend gestaan het as Constantia Saddle, is 'n gesellige wyn om te geniet. Hierdie versnit van cabernet sauvignon (39%), cabernet franc (38%) en merlot (23%), wat deurtrek is van bessiegeure met die cabernet wat die botoon voer, is sowel 'n verleidelike as ‘n bevredigende wyn. Ryk, sappige tanniene veroorloof onmeetbare genot saam met 'n ete of om net so op sy eie aan te teug.                                                

 

Die wyn is in 100% Franse eikehout verouder en het die sappigheid en subtiele tanniene te danke aan Karl se strategie om slegs vryloopsap in die versnit te gebruik.

 

“Die wyn is toeganklik en beaam die insluiting van 'n groot proporsie cabernet, franc sowel as sauvignon. Die wyn is 'n vars en moderne interpretasie van 'n klassieke Medoc, en sal beïndruk terwyl dit nog jonk is en baie meer kompleksiteit bied soos dit oor die volgende vyf na ag jaar verouder,” voeg Karl by.

 

Die Constantia Glen Five 2007, voorheen bekend as Constatia Glen, is 'n oefening in balans. Die wyn, wat uit vyf Bordeaux-kultivars – merlot (32%), cabernet sauvignon (27%), malbec (18%), cabernet franc (11,5%) en petit verdot (11,5%) – bestaan, is veelsydig met driftig geparfumeerde sederhout aangevul met 'n oorvloed swartbessie en Morello-kersies. Die aromas volg heerlik deur na die mond waar verfynde tanniene tekstuur en struktuur verleen aan dié uiters komplekse wyn. Dié wyn, wat sowel elegant as verfynd is, eindig met 'n gesofistikeerde en talmende nasmaak.

 

In teenstelling met die Constantia Glen Three is 100% van die parswyn in die versnit gebruik om digtheid en kompleksiteit te verleen. 'n Uiters noukeurige seleksie vanuit 66 verskillende lotte verkry van 11 gistingsbondels in vaatjies afkomstig van ses verskillende Franse kuipers maak die samestelling van die finale versnit op.

 

“Dié wyn is gebalanseerd en kompleks terwyl dit die verlangde elemente van varsheid en sagtheid behou, en is 'n digte versnit met hope ekstrak en voortreflike verouderingspotensiaal oor die volgende 10 tot 15 jaar,” sê Karl.

 

Albei wyne het reeds gewys waartoe hulle in staat is met 4½ sterre in die Platter's South African Wine Guide, tellings van 90 en meer by gesaghebbende internasionale wynproeërs en beste wyn in hul klas-toekennings by die 2009- International Wine and Spirit Competition in London. Die Constantia Glen Five 2007 is ook met 'n goue medalje bekroon by die 2009- Drienasies-wynuitdaging tussen top wyne van Suid-Afrika, Australië en Nieu-Seeland.

 

Constantia Glen, een van die juwele in die Constantia-wynvallei en boonop slegs 20 minute se ry van Kaapstad se middestad, is sewe dae van die week oop vir wynproeë. Skakel 021 795 5639, stuur ‘n epos aan wine@constantiaglen.co.za of besoek www.constantiaglen.com vir meer besonderhede.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram