Constantia Glen pure pienk met sensasionele nuwe Saddle Rosé

Date posted:
September 26, 2011

Constantia Glen, die manjifieke boetiek-wynlandgoed wat hoog op teen die hange van die Constantiaberg geleë is, het pas 'n aanloklike rosé bekend gestel wat die speelsheid van somer in 'n glas vasvang en uitsluitlik by die proelokaal beskikbaar is.

 

Dié kurkdroë Constantia Saddle Rosé 2011 wat volgens die klassieke styl eie aan die suide van Frankryk gemaak is en met 'n pragtige salmpienk blos en somersgeure van aarbeie, blomme en bessievrugte spog, is heerlik vars en verfrissend terwyl dit behaag met 'n ryk, sappige smaak.

 

“Dit is die perfekte wyn om langs die swembad te geniet! 'n Warm somersdag, elegante vingerhappies en goeie geselskap pas die heel beste by hierdie wyn!” sê die wynmaker, Karl Lambour, en beveel aan dat jy hierdie nuwe wyn teen 6°C geniet, en hy sal glad nie aanstoot neem as jy 'n ysblokkie of twee byvoeg nie.

 

Die Constantia Saddle Rosé is net die wyn om te bedien wanneer jy in die buitelug onthaal tydens die Kaap se lang, soel somersdae. Van fynproewerpieknieks met kreefsterte bedien met tuisgemaakte aioli tot tradisionele boereworsrolletjies met tamatie-en-uiesmoor is ewe lekker saam met 'n glasie of twee van dié yskoue Rosé. En as jy 'n regte meestersjef in die kombuis is, sit dit gerus voor saam met gebakte reënboogforel, spoggerige slaaie of klassieke Mediterreense peuselhappies soos hoemoes, olywe en taramasalata bedien met 'n lekker bros baguette.

 

Die Constantia Saddle Rosé, wat teen 'n lae temperatuur tenkgisting ondergaan het om die lewendige aarbei- en blomgeure verder te versterk, is volgens die klassieke Provensaalse styl gemaak met 'n ligte blos en 'n vrugtige dog droë smaak. Dié wyn, wat uitsluitlik by die wynproelokaal op die plaas of aanlyn by die Constantia Glen-wynklub by www.constantiaglen.com beskikbaar is, kos R50 'n bottel, of koop sommer 10 en kry 'n kis van 12 teen R500.

 

“Ons het slegs 500 kiste van hierdie pragstuk gemaak en dit vlieg van die rakke af!” waarsku Karl.

 

Afgesien van hul skouspelagtige uitsig, koelklimaat- sauvignon blancs, besonderse Bordeaux-styl rooiwyne en nou ook die sensasionele nuwe Rosé, bied Constantia Glen se wynproelokaal ook 'n puik verskeidenheid handgemaakte kase teen R45 vir 'n peuselbord vir twee.

 

Constantia Glen, een van die juwele in die Constantia-wynvallei en boonop slegs 20 minute se ry van die Kaap se middestad, is daagliks van 10vm af oop vir wynproeë, insluitende Saterdae en Sondae. Wees op die uitkyk vir die Constantia Glen-naambord aan die bo-punt van Constantia se hoofstraat. Skakel 021-795-5639, stuur ‘n epos aan wine@constantiaglen.co.za of besoek www.constantiaglen.com vir meer inligting.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram