Clos Malverne vier 25 jaar van wynmaak met nuwe wynmaker

Date posted:
February 8, 2011

Clos Malverne, bekend vir sy vlagskip- Kaapse versnitwyne, vier 25 jaar van gehaltewyn maak in die hartjie van die skilderagtige Devonvallei buite Stellenbosch met die aanstelling van ‘n nuwe wynmaker, Suzanne Coetzee. Die eerste wyne onder die Clos Malverne-naam – ‘n skamele 800 bottels Cabernet Sauvignon – het in 1986 die lig gesien.

 

Clos Malverne is ‘n familie-onderneming met Seymour Pritchard en sy vrou, Sophia, aan die stuur van sake en hul dogter, Belinda, wat na die welstand van die besoekers omsien en hulle pamperlang in die spa op hulle idilliese wynland-juweel. Seymour se broer, Mervyn, is die sous-sjef by hul kontemporêre restaurant waar die uitvoerende sjef, Nadia Louw, die potte met smaak aan die kook hou.

 

Maar meer oor Suzanne. Die gesegde “Dinamiet kom in klein pakkies” is beslis van toepassing op hierdie geesdriftige blondine wat nou haar heil gevind het by dié bekroonde kelder. En om alles te kroon, volg sy haar man, Charl, op as wynmaker hier.

 

“Ek is mal daaroor om deel te wees van die Clos Malverne-‘familie’ want hier is alles so ‘hands-on’ en is ons almal betrokke by die verskillende aspekte van die wynbesigheid,” gesels hierdie talentvolle Namibiër. Die plaaslewe vloei behoorlik deur Suzanne se are as gevolg van haar kinderjare op ‘n familieplaas in Namibië en Citrusdal.

 

Nadat sy gematrikuleer het aan Rustenburg Hoërskool in Kaapstad, het sy haar droom om ‘n wynmaker te word nagevolg en ‘n BSc-graad in Wingerdbou- en Wynkunde by die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Voordat sy by Clos Malverne aangesluit het, het hierdie selferkende “plaasmeisie” haar wynmaakkennis en -talente verbreed by verskeie erkende wynlandgoedere in Stellenbosch, Paarl en Franschhoek waartydens sy ook die kuns van wynversnyding en die skep van uiteenlopende style wyne bemeester het.

 

Tydens hierdie jare het Suzanne, wat ook met ‘n besigheidsdiploma en ervaring in bemarking spog, die plaaslike en internasionale wynmarkte behoorlik verken en het sy enorme insig en kennis oor die verskeie geleenthede vir Suid-Afrikaanse wyne in die groter internasionale arena verwerf. 

 

As bewaker van Clos Malverne se wingerde en kelder, spits Suzanne haar toe op ‘n wynmaakfilosofie van tradisionele eenvoud met ‘n minimalistiese benadering sodat die unieke geure, gehalte en herkoms van die druiwe ook in die kelder tot hul eie reg kan kom.

 

Sy glo ook dat mens die druiwe so min as moontlik moet “manipuleer” met meganiese, chemiese of tegniese foefies en hou daarvan om klassieke, elegante wyne met uitstekende verouderingspotensiaal te skep.

 

Suzanne het ‘n groot passie vir pinotage aangesien dit enige versnit lig en geweldige vrug aan ‘n wyn verleen wanneer mens net ‘n klein bietjie daarvan byvoeg.

 

“Ek hou daarvan om pinotage in al my rooiwynversnitte te gebruik en gelukkig het Clos Malverne ‘n uitmuntende geskiedenis wanneer dit kom by die produksie van wêreldklas-pinotage,” verduidelik sy.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram