Clos Malverne is ‘n prentjiemooi wynlandgoed in die pragtige Devon-vallei aan die buitewyke van Stellenbosch. Wingerde omring die kelder en die pragtige herehuis van die eienaars, Seymour en Sophia Pritchard. Die berge aan die noordekant van die vallei is asemrowend mooi. Gretig om hierdie skoonheid en rustigheid met mense te deel, het die Pritchards ‘n stylvolle proesentrum met glasdeure en ‘n boetiek-gesondheidspa gebou wat hierdie manjifieke uitsigte deel.
Die ruim, nuwe fasiliteit met sy groot glasdeure wat heeltemal oopvou, bied besoekers asemrowende uitsigte op hierdie natuurskoon. Die dekor is elegant, minimalisties en chic. Besoekers kan Clos Malverne se wye reeks wyne geniet en terselfdertyd in gemaklike sitbanke ontspan of buite op die balkon sit en die panoramiese uitsig geniet.
Benewens puik wyne, kan besoekers aan Clos Malverne nou ook ‘n kulinêre ervaring geniet. Daar’s ‘n keuse tussen twee borde met ‘n verskeidenheid happies: ‘n vleis- en kaasbord wat bestaan uit Italiaanse salami, ham, carpaccio, pâté, ‘n keuse van vier plaaslike kase, kraakbeskuitjies en seisoenale vrugte; of miskien is ‘n eenvoudige kaasbord meer jou voorland. Kies dan ‘n reeks van ses heerlike kase met olywe, pâté, ‘n reeks kraakbeskuitjies en vars vrugte.
Die Spa @ Clos Malvern Wine Estate is die geesteskind van Seymour se dogter, Belinda, ‘n opgeleide gesondheids- en velsorgterapeut. Die spa, wat bo die proesentrum geleë is, bied ‘n wye reeks behandelings. Verversings kan op die spa se dek geniet word of langs die landgoed se sprankelende swembad.
Die wonderlike ligging en die onlangse vernuwings het hierdie prentjiemooi wynlandgoed in die ideale plek vir troues en ander funksies verander.
Clos Malverne was een van Suid-Afrika se eerste pinotage-pioniers en een van die eerste plase om ‘n Kaapse versnit te maak. Clos Malverne maak twee wynreekse. Die Clos Malverne-reeks is die premie-reeks wyne en bied ‘n Sauvignon Blanc, ‘n Pinotage, ‘n Pinotage Reserve, ‘n Cabernet Sauvignon Shiraz, ‘n Cabernet Sauvignon Merlot en die vlagskip Auret, ‘n Kaapse versnit met pinotage. Die Auret 1998 was die eerste Kaapse versnit wat 5 sterre in die gesaghebbende Platter Wine Guide ontvang het. Die standaard Devonet-reeks bestaan uit ses wyne; ‘n rosé, twee wittes en drie rooies.
EINDE
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast