Clos Malverne onthul sy eerste Merlot

Date posted:
July 19, 2011

Clos Malverne, wat veral bekend is vir sy vlagskip- Kaapse rooiwynversnitte, wend hom tot ‘n sysagte, meer vroulike aanslag met die toevoeging van ‘n merlot tot sy vruggedrewe, kosvriendelike rooiwyn-repertoire.

 

In pas met Clos Malverne se tradisionele, handgemaakte styl beskik die nuwe Merlot 2009 oor al die saggeaarde karaktertrekke wat so eie is aan hierdie kultivar. Dit sluit in sagter tanniene wat die wyn meer toeganklik maak as die meer robuuste rooiwynkultivars.

 

“Ons terroir hier in die buik van die Devonvallei buite Stellenbosch is veral geskik vir merlot. Die koeler hange is voordelig vir die karakter, kleur en struktuur van die druiwe, veral gedurende die groeiseisoen, en verleen ‘n gebalanseerde natuurlike suurheid, ryp tanniene en gekonsentreerde smake aan die wyn,” verduidelik die wynmaker, Suzanne Coetzee.

 

“Ons het oor die jare al groot sukses behaal met ons cabernet sauvignon/merlot-versnit te danke aan die merlot-komponent wat afronding en finesse aan die wyn verleen. Dit is dus heel gepas om ook ‘n merlot in eie reg die lig te laat sien. Hierdie ‘baardlose vleier’ beskik oor dieselfde klassieke waardes as dié van ons ander wyne,” voeg sy by.

 

Die druiwe vir die Merlot 2009 is afkomstig vanaf ‘n wingerdblok teen die westelike hange met ideale grond wat goed gedreineer en beskut is teen die strawwe namiddagson. Getrou aan eertydse, tydsame wynmaaktradisies, is Clos Malverne een van die min kelders wat nog hul handgeplukte druiwe met mandjies pars om sodoende die beste gehalte sap, delikaat vanuit die druiwe, te ontgin. Die wyn is vir nege maande in Franse eikehout verouder voordat dit gebottel is.   

 

Die Clos Malverne Merlot 2009 bied sjarme en elegansie in ‘n komplekse styl en liefkoos met volop rooivrug in die neus met onderliggende nuanses van steranys en rokerige aromas.

 

Suzanne, wat self lief is om te kook en gaste te onthaal, is absoluut gaande oor die feit dat merlot so goed paar met verskillende disse. Sy stel voor jy bedien haar nuweling met ‘n sappige biefstukfilet met camembert-kaas en ‘n swartbessiesous of ‘n ryk pasta van bloukaas en bros spek.

 

Die Clos Malverne Merlot 2009 is direk verkrygbaar vanaf die kelder teen R76 per bottel, en die landgoed kan deur middel van sy aanlyn-wynverkopefasiliteit die wyne by jou voordeur laat aflewer.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram