Cloof boor nog goud raak!

Date posted:
May 22, 2012

 

Cloof Wines buite Darling het pas nóg ’n mylpaal behaal deur die Grand Gold Medal vir sy 2009- The Very Sexy Shiraz op die 19de Concours Mondial de Bruxelles te wen. Dis die tweede goue medalje wat hierdie landgoed in net soveel maande inpalm.

 

Die Concours Mondial de Bruxelles is van 4 tot 6 Mei in Guimaraes, Portugal, gehou. Meer as 8 000 wyne is deur ’n internasionale proepaneel bestaande uit van die wêreld se voorste wynbeoordelaars beoordeel.

 

Christopher van Dieren, Cloof se wynmaker, sê: “Om twee goue medaljes in net twee maande te wen, spreek boekdele van ons verbintenis tot uitnemende gehalte hier by Cloof. Dit plaas ons landgoed en die Darling-streek stewig op die kaart as ’n wynstreek van formaat.”

 

Van Dieren voeg by dat hulle in hul noppies is dat Cloof die afgelope ses jaar elke jaar ’n goue medalje vir The Very Sexy Shiraz gewen het, “maar om die ‘Grand Gold’ te wen, is die spreekwoordelike kersie op die koek vir hierdie uitstekende wyn”.  

 

Die unieke styl en gehalte van Cloof se wyne is te danke aan die gehalte van die druiwe wat op die landgoed verbou word. Die meeste wingerde is droëland-boswingerd wat die Darling-streek se ongelooflike kombinasie van grond en klimaat ten beste benut.  

 

Die Cloof The Very Sexy Shiraz 2009 is beskikbaar by alle Pick’nPay-winkels in die Wes-Kaap, Checkers en Makro, en kos R75.00 per bottel.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram