Chenin blanc: Die beste van die beste word bekroon!

Vanjaar se wenners van die Standard Bank Chenin Blanc Top 10 Challenge lewer  oorvloedige bewys van die indrukwekkende vordering met hierdie kultivar, sê Ina Smith, bestuurder van die Chenin Blanc-vereniging.

“Internasionale kenners se toenemende fokus op chenin blanc het ongetwyfeld gehaltestandaarde help verhoog,” sê Ken Forrester, die vereniging se voorsitter. “Die onlangse chenin blanc-kongres in Angers in Frankryk het op ondubbelsinnige wyse by afgevaardigdes tuisgebring die mate waarin Suid-Afrikaanse produsente met hierdie kultivar gevorder het, sowel wat gehalte as stylverskeidenheid betref. Ons glo die 150 wyne, ingeskryf deur 87 produsente vir vanjaar se kompetisie, lewer oorvloedige bewys hiervan.”

Forrester sê wat opgeval het by die kongres in Angers, die tuiste van chenin blanc in Frankryk, was dat die welslae wat baie Suid-Afrikaanse wynmakers die laaste klompie jare  met hierdie kultivar behaal het die Franse nou groter aandag aan hierdie druifsoort laat gee. Hy het verwys na ʼn onlangse uitspraak van die Britse wynskrywer, Tim Atkin MW, wat in die tydskrif Harpers geskryf het dat “hoewel die Franse onwillig mag wees om dit te erken, meen ek dat Suid-Afrika se prestasies met chenin blanc wynmakers in Anjou en Touraine beïnvloed het op dieselfde wyse waarop Argentynse malbec Cahors beïnvloed en bande tussen die twee versterk het”.

Hy het verwys na onlangse navorsing wat bewys dat chenin, wat vermoedelik sy oorsprong sowat 500 jaar gelede gehad het, die afstammeling is van twee Franse wit druifsoorte, savagnin en sauvignonasse.  Waar dit vroeër byna uitsluitlik in Suid-Afrika en Frankryk aangeplant is, word dit nou in 23 lande verbou en is dit vandag die 26ste mees aangeplante kultivar met wingerde wat in totaal tussen 33 000 en 36 000 ha beslaan. Suid-Afrika is die land met die grootste aanplantings van chenin met sowat 17 000 ha.

Cathy van Zyl MW, voorsitter van die paneel van beoordelaars, sê die meerderheid van die Top 10-wyne is gemaak van druiwe afkomstig uit wingerde wat 30 jaar en ouer is, die oudste synde een wat 55 jaar gelede aangeplant is.  “Onder hulle is daar egter ook wyne gemaak van druiwe van stokke wat tien en agt jaar oud is, wat dui op wat met kundige wingerdbou en wynmaaktegnieke bereik kan word.”

Die druiwe van vyf van die Top 10 kom van wingerde in die Stellenbosch-omgewing, terwyl die druiwe vir die ander vyf gekweek is in die Sederberg en die omgewings van Durbanville, die Paarl, Slanghoek en Wellington.

Stephan van der Merwe, wat aan die hoof van Standard Bank se handelsbankbedrywighede in die Wes-Kaap staan, sê dit was verblydend om te sien dat die gemiddelde prys per bottel van vanjaar se bekroonde wyne tot R255,80 gestyg het teenoor ʼn gemiddelde van R200 in 2018.

“Suid-Afrikaanse wynmakers wat wêreldklas-standaarde met hul wyne behaal, verdien om behoorlik daarvoor vergoed te word. Terselfdertyd, met pryse wat by R108 per bottel begin, is daar steeds uitstekende waarde in die lys van wenners te vind.”

Die wenners, in alfabetiese orde, is:

  • Cederberg Cellars Five Generations Chenin Blanc 2017
  • DeMorgenzon Reserve Chenin Blanc 2018
  • Durbanville Hills Collector’s Reserve The Cape Garden Chenin Blanc 2018 (nuut)
  • Flagstone Winery Tributary Bush Vine Chenin Blanc 2018 (nuut)
  • Ken Forrester Wines The FMC 2018 (nuut)
  • Kleine Zalze Family Reserve Chenin Blanc 2018
  • Kleine Zalze Vineyard Selection Chenin Blanc 2018
  • Rijk’s Cellar Touch of Oak Chenin Blanc 2017
  • Slanghoek Wynkelder Legends Barrel Fermented Chenin Blanc 2017
  • Stellenrust The Mothership Chenin Blanc 2018

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>