Chateau Libertas vier 80ste verjaarsdag met heerlike versnit

Date posted:
October 9, 2012

Om die 80ste bestaansjaar te gedenk van Chateau Libertas, na alle waarskynlikheid Suid-Afrika se oudste rooi versnit, is 'n beperkte oplaag van die 2010-oesjaar pas bekend gestel. Dié “oupa” van rooi versnitte word al van 1932 elke jaar gemaak.

 

Net 4 000 bottels van die verjaardagversnit is gemaak, met ’n unieke etiket wat enkele van die hoogtepunte van die wyn se geskiedenis uitbeeld. Die wynmaker, Bonny van Niekerk, is die geleentheid gegee om die beste druiwe daarvoor uit te soek. Nadat die druiwe tot wyn gemaak is, is die beste komponente vir houtveroudering gekies.

 

“Dis ons allerbeste versnit,” sê sy. “Dis meer kompleks, met verskeie smaaklae en ’n sterk struktuur. Tog toon dit al die kenmerkende, heerlike ryp bessie- en pruimsmake plus die speseryagtige eikehoutsmaak wat ’n mens van Chateau Libertas verwag. Dit is nou al 'n vreugde om te drink, maar gaan in die volgende vyf jaar of meer eers werklik tot sy reg kom.”

 

Soos altyd bevat Chateau Libertas cabernet sauvignon wat met merlot, shiraz en petit verdot versny is. Die druiwe kom van puik wingerde met ’n lae opbrengs by Stellenbosch en Darling.

 

Kry joune by die Bergkelder Vinotèque-wynbank in Stellenbosch, die aanlynwinkel by www.vinoteque.co.za, asook by gekeurde afsetpunte van die groot supermark- en drankkettings. Na verwagting sal die kleinhandelprys sowat R65 per bottel wees.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram