Chardonnay: Klink ’n Glasie op ‘n Franse Edelman!

Malbec het sy eie wêreldwye viering. So ook sauvignon blanc, chenin blanc, pinotage en vele ander kultivars. En chardonnay het pas sy eie gehad. Dis goed om ’n dag opsy te sit vir die viering van die vrug van die druif, die nektar van die gode. Dis egter beter om dit elke dag te doen … verantwoordelik en met matigheid voor oë.

Die goeie nuus is dat ons dit van Maandag, 1 Junie, af weer kan doen … verantwoordelik en met matigheid voor oë.

Maar kom ons kyk vir ’n oomblik na chardonnay … omdat dit pas Internasionale Chardonnay-dag was en ons daarvan hou om op iets te fokus!

Die Robertson-wynvallei is nie net ’n bekende tuiste van die voorste chardonnays in ons land nie, maar een van die kultivar se trotsste ambassadeurs, Van Loveren Family Vineyards, is ook hier geleë.

Van Loveren se eerste chardonnay-wingerde is in 1979 geplant, reg aan die begin van Suid-Afrika se chardonnay-golf. Hul eerste bottel wyn wat van hierdie druif gemaak is, is in 1983 bekend gestel. Hierdie bekroonde wynkelder, wat in 1937 gestig is, bied vandag nie net chardonnay in ’n verskeidenheid versnitte nie, maar het ook ’n vlagskip- chardonnay in elkeen van die Van Loveren-, Tangled Tree-, Zandvliet-, Rhino Run- en Christina-reekse. Meer onlangs het die Van Loveren Christina MCC Brut NV (gemaak van chardonnay) die MCC-trofee by die jongste Michelangelo International Wine and Spirits Awards gewen.

In Suid-Afrika is chardonnay bekend daarvoor dat dit tot volbringing kom op Robertson-wynplase. ’n Unieke kombinasie van natuurlike elemente maak dit moontlik. Die Karoo-grond het ’n baie hoë kalksteen-inhoud wat goeie groei verseker sonder om dit té ryk te maak. Die perfekte klimaat hou reënval op die kritieke tye in die wingerd-produksiesiklus laag. Dieselfde toestande maak vroeë rypwording moontlik – iets wat die kultivar laat gedy. Die streek se natuurlike geskiktheid vir hierdie kultivar verseker ’n groter diversiteit en geure.

Die eindresultaat is ’n uiteenlopende reeks wyne van gehalte wat in diverse uitdrukkings en style gemaak word. Voorbeelde sluit onder meer elegante chardonnays in; dié wat romerig is en ander met ’n dominante sitrus-karakter of tropiese geure. Daar is ryk en komplekse chardonnays (gehout en ongehout), en ook speseryagtig. En natuurlik is daar die uitmuntende Cap Classique-borrels.

Maar dis darem nie net die Robertson-streek wat kan spog met uitmuntende chardonnay nie. Die Franschhoek-vallei is ’n ander streek wat kan saam gesels.

Die groot verskil in die streek se dag- en nagtemperature, wat tot 15ºC kan verskil, lei glo tot hoë natuurlike suur en optimale suiker in die druiwe wat die streek ’n wye spektrum en groot diversiteit bied om mee te “speel” in die kelder. Lemmetjie-, sitrus- en kasjoeneut-aromas in die neus, ’n romerige tekstuur met heerlike mineraliteit in die mond en ’n talmende nasmaak is kenmerkend van chardonnays wat hier geskep word. En dan, voeg die wynmakers by, bied Franschhoek se chardonnays dikwels daardie hawermeulkarakter waarvoor sommige van die beste chardonnays uit Frankryk bekend is.

“Chardonnay is die mees aangeplante kultivar in die vallei,” verduidelik Franschhoek Vignerons se voorsitter en eienaar van Holden Manz, Gerard Holden. “Dit verteenwoordig sowat 16% van alle aanplantings. Terroir en kloonseleksie speel ’n baie groot rol in die gehalte van ons druiwe, terwyl wynmaaktegnieke soos die gebruik van wilde gis en verskillende gistegnieke (staaltenks, eikehoutvate en amfora) die gehalte en eienskappe van die finale produk bepaal.”

Baie van Franschhoek se chardonnay-druiwe word vir sjampanje (in Suid-Afrika bekend as MCC of Cap Classique) aangewend. Produsente soos Môreson het verskillende klone geplant om kompleksiteit en struktuur te bewerkstellig, terwyl ander soos GlenWood, Chamonix en La Bri hul interessante terroir en wynmaaktegnieke inspan om hul eie stempel op hul chardonnays af te druk.

’n Aantal produsente sonder toegang tot hul eie chardonnay-druiwe kry hulle s’n van elders. So kry Pasarene sy druiwe uit die Elgin-streek, terwyl Platter se Chardonnay van die Jaar-produsent, Leeu Passant, syne uit die Stellenbosch-omgewing kry. Holden Manz weer kry hul chardonnay van sogenaamde “koeler” persele naby Valsbaai en teen die hange van die Simonsberg.

“Dit maak nie saak vanwaar die druiwe kom nie, Franschhoek se wynmakers skep uitmuntende voorbeelde van hierdie Franse kultivar, en toekennings en huldeblyke getuig daarvan. Daar is ’n passie vir die druif en wynmaak in ons vallei wat omkep word in ’n reeks fenomenale uitdrukkings van chardonnay,” sê Gerard.

Maak nie saak waar die chardonnay vandaan kom nie, as jou wynreis van ontdekking en verkenning nog nie hierdie Franse edelman tegemoet gekom het nie, skort daar beslis iets met jou padkaart.

Tjorts!

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>