Twee wyne uit die KWV-portefeulje het ‘n verdere bydrae tot die maatskappy se reputasie as ‘n leier in die wynbedryf gemaak deur hoë punte te behaal in ‘n onlangse evaluasie deur die hoog aangeskrewe, VSA-gebaseerde wyntydskrif, Wine Enthusiast Magazine.
Die Cathedral Cellar Cabernet Sauvignon 2006 het 87 uit ‘n moontlike 100 punte behaal, terwyl die Cathedral Cellar Shiraz 2006 effe hoër ge-eindig het met 90 punte. Albei is gekies as die “editor’s choice”-wyne, met die Cabernet Sauvignon vir die November 2010-uitgawe en die Shiraz vir die Desember 2010-uitgawe.
Wine Enthusiast Magazine is in 1988 geloods om lesers ingelig te hou oor belangrike verwikkelings in die wêreld van wyn en sluit ‘n groot aantal wyn-evaluasies in elke uitgawe in. Die tydskrif het gegroei tot een van die grootste publikasies in die wêreld toegewy aan wyn en spiritualieë.
Die Cathedral Cellar Cabernet Sauvignon 2006 het 22 tot 24 maande in nuwe Franse eikehout verouder tot ‘n volronde wyn met tipiese swartbessiegeure. Die wyn word verder gekomplementeer deur subtiele bloekom- en speserygeure. Die rokerige eikehoutkarakter dra by tot ‘n goed gebalanseerde wyn met ‘n oorvloed bessie-aromas. Die wyn, wat beskikbaar is by uitgesoekte kleinhandelaars, kos R99.00 per bottel en word op sy beste geniet saam met geroosterde of gebakte rooi vleis in ‘n ryk sous.
Met ‘n fantastiese diepte en karakter, is die Cathedral Cellar Shiraz 2006 ‘n volronde wyn met ‘n romerige mondgevoel, gelaai met swart vrugtegeure en goed geintegreer met houtspeserye. Die nasmaak is talmend en die indruk wat die wyn laat, is sterk. Dis die ideale vennoot vir swaar disse en kos sowat R99.00 per bottel by uitgesoekte kleinhandelaars.
Besoek www.cathedralcellarwine.com vir meer inligting oor die handelsmerk en sy produkte.
EINDE
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast