Carménère: Meer as net ’n versnitkultivar

Carménère is ’n wyndruifkultivar wat oorspronklik in die Médoc-streek van Bordeaux in Frankryk geplant is. Dis gebruik om diep rooiwyne te skep en soms ook aangewend in versnitte nes petit verdot.

Carménère is lid van die cabernet-familie. Die naam is afgelei van die Franse woord vir karmosynrooi, carmin, wat verwys na die helder karmosynrooi kleur van die herfsblare net voor ontblaring. Die druif staan ook as grande vidure bekend, ’n geskiedkundige Bordeaux-sinoniem. Saam met cabernet sauvignon, cabernet franc, merlot, malbec en petit verdot word carménère beskou as een van die oorspronklike ses rooi kultivars van Bordeaux.

Terwyl die kultivar deesdae maar skaars in sy land van oorsprong is, word die meeste daarvan in Chile gevind met byna 9 000 hektaar in die land se Sentraal Vallei. Die land produseer dus ook die meeste wyn ter wêreld van die carménère-druif en voortdurende eksperimentering word met die kultivar gedoen om sy potensiaal as versnitkomponent, veral met cabernet sauvignon, te bepaal. Chile het egter reeds bewys dat carménère uitstekend op sy eie bene kan staan!

KWV is een van slegs ‘n handjievol produsente in SA.

Carménère word ook verbou in Italië, Argentinië en Kalifornië, en daar is sowat 9 hektaar in Suid-Afrika.

Wynliefhebbers wat van kruiegeure hou en smag na wyne wat nie “vrugtebomme” is nie, sal mal wees oor wat carménère bied. Die druif het ’n hoë teenwoordigheid van ’n spesiale, aromatiese samestelling (pyrazine) wat ’n unieke, kruieagtige element aan die smaak voeg. Dink aan groen soetrissie. Dan bevat dit ook die aromatiese samestellingsgroep bekend as methoxypyrazines wat aan groen soetrissie, kruisement, peperkorrels of selfs kakaopoeier herrinner. Verder sal geure van rooi bessies en kersies ook die smaakkliere prikkel.

As jou wynreis van ontdekking en verkenning nog nie by carménère uitgekom het nie, sorg dat jy so gou moontlik jou hande op ’n bottel (of meer) lê.

Tjorts!

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>