Cape Legends slaan groot slag in China

Date posted:
May 26, 2011

Cape Legends het ’n langtermyn-ooreenkoms gesluit om sy wyne in China te verkoop. Isobel Armstrong, die sakebestuurder vir die portefeulje spesialiswyne, verwag dat verkoopsvolumes in die lig daarvan beduidend sal styg.

 

Die ooreenkoms is ? uitvloeisel van die al groter vraag na Suid-Afrikaanse wyn deur Chinese verbruikers. Die hoeveelheid gebottelde wyn wat in die 12 maande tot Maart vanjaar in die Volksrepubliek verkoop is, het luidens SA Wine Industry & Information Systems (SAWIS) in vergelyking met die vorige 12 maande met 60% gestyg.

 

Produsente oral ter wêreld meen China is die land waar hulle hul verkoopsvolumes sal kan verhoog. Die markontleders, International Wine & Spirit Research (IWSR), raam dat die waarde van China se wynmark teen 2014 tot $6 miljard sal toeneem. Wine Intelligence, ’n navorsingsorganisasie wat in die VK gesetel is, verwag dat die aantal Chinese wyndrinkers teen 2015 op sowat 34 miljoen sal staan.

 

Rabobank berig dat die Chinese mark vir tafelwyn die afgelope vyf jaar met sowat 20% per jaar toegeneem het. Gegewens van Euromonitor dui daarop dat verbruik tans ongeveer 1,48 miljard liter is.

 

Guangzhou South African Valley verteenwoordig Cape Legends. Die ooreenkoms wat pas bereik is, behels 14 produkte van vyf handelsmerke: Alto, Jacobsdal, Neethlingshof, Plaisir de Merle en Stellenzicht. Met een uitsondering is daar net rooiwyn in die versameling. Rooi het talle positiewe assosiasies vir Chinese, en die huidige vraag in die mark is dan ook hoofsaaklik vir rooiwyn. Die enkele witwyn is ’n halfdroë en baie geurige gewürtztraminer wat oral as ’n uitstekende pasmaat vir Chinese kos beskou word. Dit word deur die Stellenbosse Landgoed, Neethlingshof, gemaak.

 

Guangzhou South African Valley, wat reeds verskeie jare lank ’n keurreeks Kaapse wynmakerye verteenwoordig, bou bestendig aan die sigbaarheid van Suid-Afrikaanse wyne deur aan handelskoue en -uitstallings deel te neem in stede met hoë vlakke van besteebare inkomste soos Ghoeangsjoe, die hoofstad van die Ghoeangdong-provinsie, Sjengdoe, die hoofstad van die Sitjoean-provinsie, en Tjangsja, die hoofstad van Hoenan.

 

Ghoeangsjoe lewer 16% van die wyndrinkers in die bo-middelklas in China, volgens Meininger’s Wine Business International, en is tot ’n mate reeds met wyn uit Suid-Afrika vertroud.

 

Die Cape Legends-wyne word deur sowel die kleinhandel- as binneverbruik-kanale aangebied.

 

Armstrong sê hoewel al vyf handelsmerke buite Suid-Afrika verkoop word, is die nuwe ooreenkoms Alto se eerste groot uitvoerpoging. Tot op hede het dié landgoed sy aandag op die binnelandse mark toegespits waar hy baie sukses behaal.

 

“Wat hul posisie, styl en etikette betref, word al die wyne wat gekies is as uitstekende pasmaats vir die Chinese mark beskou, en ons sien daarna uit dat dié handelsmerke hulself daar vestig.”

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram