Cape Legends presteer by Michelangelo

Date posted:
September 13, 2011

Wyne in die portefeulje van Cape Legends het uitstekend gevaar in vanjaar se Michelangelo Internasionale Wyntoekennings deur twee Grand d’Or-onderskeidings vir die 2007- Lomond Sugarbush Sauvignon Blanc, 'n enkelwingerdwyn, en die 2004- Stellenzicht Syrah te verower, asook vier goue medaljes.

 

Die goue medaljes is toegeken aan die 2007- Lomond Pincushion Sauvignon Blanc, 'n enkelwingerdwyn, die 2007- Alto Shiraz, die 2009- Neethlingshof Caracal en die 2010- Uitkyk Sauvignon Blanc.

 

Daarbenewens het Cape Legends se wyne ook drie silwer medaljes ontvang. Twee hiervan is weer eens toegeken aan Lomond se Pincushion Sauvignon Blanc van die 2010- en 2011-oesjare, en die derde aan die 2011- Neethlingshof Short Story Collection The Maria Noble Late Harvest.

 

Lize-Marie Gradwell, bemarkingsbestuurder van Cape Legends, sê Lomond se witwyne ontvang deurlopend kritiese erkenning van wynkenners. “Die 2007-oesjaar was 'n uitsonderlike jaar vir Lomond se enkelwingerd- sauvignon blancs. Dis 'n geval van hoe ouer, hoe beter. Na vier jaar bied hulle 'n rykdom van wonderlike geure en hulle behoort, volgens die wynmaker, Kobus Gerber, nog vir vier jaar op hul beste te wees.”

 

Die 2007- Sugarbush het in 2009 by die Ou Mutualtrofee-wynskou die prys ontvang as die beste sauvignon blanc en toe in 2011 hierdie onderskeiding herhaal, maar nou in die museumklas. Die 2007- Pincushion is op sy beurt in 2008 op die Decanter World Wine Awards aangewys as die beste sauvignon blanc ter wêreld wat vir minder as £10 verkoop.

 

Links: Nog 'n meester van sy vakgebied is De Wet Viljoen van Neethlingshof, en sy Short Story Collection is bewys daarvan.

 

Wayne Gabb, hoofbestuurder en wingerdboukundige van Lomond, skryf die langslewendheid van die wyne toe aan die stadige rypword van die druiwe in die koel klimaat van die Gansbaai-area. “Omdat die trosse so lank aan die stokke bly, is daar 'n natuurlike opbou van suur gekombineer met 'n lae pH sodat die inherente eienskappe van die wyn eers na 18 maande na vore kom.”

 

Die 2004- Stellenzicht Syrah wat Cape Legends sy tweede Grand d’Or besorg het, is die vlagskipwyn van hierdie landgoed wat in die befaamde Goue Driehoek tussen Stellenbosch en Somerset-Wes geleë is en wat bekend is vir die uitsonderlike gehalte van sy druiwe. Stellenzicht was in die voorste geledere in Suid-Afrika met die opbloei in die gehalte van wyne wat van hierdie kultivar gemaak word. Hierdie besondere oesjaar van die Stellenzicht Syrah, wat van die druiwe van 'n enkele wingerd gemaak word, het ook in 2008 by Michelangelo vir die wynmaker, Guy Webber, 'n Grand d’Or gewen.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram