Cape Collective The Witmossel 2021: Somer in ’n glas!

Date posted:
July 3, 2024

“Die beste wyn is die een waarvan jy die meeste hou, ongeag handelsmerk, prys of toekennings. Jou tong is die enigste ‘kenner’ waarna jy moet luister.” Hierdie stukkie advies is ek dekades gelede gegee deur ’n ware wynghoeroe, een wat vandag nie meer met ons is nie, maar wat diep spore in die plaaslike wynbedryf gelaat het.

Ek het intussen ook geleer dat wyn baie persoonlik en subjektief is, en dat die enigste slegte wyn een met ’n fout is. Ek hou byvoorbeeld net van volronde, fris wyne saam met bypassende kos. Wanneer ek net wil ontspan, is enige wyn in ’n ligte tot medium styl my eerste keuse.

Met ons uiteenlopende terroir, kultivars en wynstyle is daar ’n wyn vir elke sak en smaak. Maar om uit te staan in die “trop” moet wynmakers en –bemarkers dikwels kreatief en innoverend wees. Dit bring my by die Cape Collective se The Wrapper Series. Dis nou wyne in ’n half parmantige, tong-in-die-kies-verpakking wat mens herrinner aan die sogenaamde Prohibition Brown Paper Bag.

Die reeks se storie het in 2020 begin tydens die Covid 19-inperking toe Janneman Solms en Dane Raath, albei wynbemarkers, besluit het om hul konneksies in die wynbedryf te gebruik om wyne te skep vir sowel wynsnobs as bleeksiele en nuwelinge. Die wyne word deur wynmaakvriende van die twee geskep vir markte wat die twee raaksien.

Die Cape Collective The Witmossel 2021 is ’n riesling wat in hout verouder is. Sy ligte goue kleur vang die oog, maar dan verdoesel sy effe skugter “neus” wat op die mond wag, en dis lemmetjie, bloeisels, sweempies appel en speserye. Dis ’n goed gebalanseerde wyn met heerlike vrugtegeure en ’n uitlokkende droë einde. Dis nie ’n wyn wat jou laat regop sit en kennis neem nie, maar eerder agteroor sit en ontspan … met ’n glimlag van genoegdoening!

Soos reeds genoem, ken ek punte toe aan ’n wyn suiwer op grond van hoe ek hom ervaar en geniet het:

80-84:   goed

85-89:   baie goed

90-94:   blerrie goed

95-100: te-goed-om-waar-te-wees goed

Ek het hierdie wyn met wynvriende gedeel, iewers by die see, en ons almal was teleurgesteld toe die bottel sy laaste druppels opgeoffer het! Ek het hom uiteindelik 87 punte gegee, maar my proepêlle het besluit ek’s té konserwatief en dat The Witmossel 89 punte verdien.

Die Cape Collective The Witmossel 2021 kos sowat R150.

Vir meer inligting oor die wyne in The Wrapper Series, of om te bestel, besoek www.capecollective.co.za.

einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram