Capaia bied natuurskone ruimte vir uitspan en ontspan … en meer!

“In 1997, kort nadat ek my liefde vir Afrika ontdek en ’n sterk verhouding met die Kaap die Goeie Hoop ontwikkel het, het ek die plaas van my drome gevind. Dit was die voormalige De Hoop-koringplaas wat my hart gesteel het. Ons het wingerde geplant in grond wat goed uitgerus was en nog nooit druiwe gesien het nie, en my visie het ’n werklikheid geword.”

Ingrid Barones von Essen en haar oorlede man, Alexander Baron von Essen, het egter nie daar gestop nie. ’n Kelder is gebou en die ou plaashuis in die Victoriaanse boustyl, wat oor die jare heen baie agteruit gegaan het, is gerestoureer en het in 2013 ’n restaurant, Mariella’s, geword. Dis vernoem na Barones von Essen se enigste dogter.

Capaia Wines, vandag deel van die nuwe Philadelphia-wynboustreek, het in 2005 amptelik ’n wynlandgoed geword. Sy 140 hektaar (waarvan sowat 60 hektaar onder wingerd) strek noordooswaarts oor Olifantskop. Die plaas is sowat 30 km van Kaapstad af en 10 km van die koue Atlantiese Oseaan geleë.

Barones von Essen het in 2015 vir Graaf Stephan von Neipperg (regs), wat ook wingerde in Frankryk besit, genader om ’n vennoot te word. Dit het nuwe stukrag verleen aan die landgoed danksy Von Neipperg se tegniese en bemarkingskennis en –ervaring.

Capaia se wingerde bestaan 80% uit rooi druiwe – merlot, cabernet sauvignon, cabernet franc, petit verdot en shiraz – en 20% uit wit – sauvignon blanc. Die wingerde lê tot 260 meter bo seevlak en is versprei oor drie hellings wat noordwaarts kyk.

Die hart van Capaia is die gravitasiekelder waar al die rooiwyne in reuse-eikehoutvate (foto links onder) gis. Altesaam 56 van hierdie Franse eikehout-gistenks, met ’n kapasiteit van tussen 5 200 en 8400 liter, maak glo van Capaia se kelder die grootste houtgebaseerde gis-aanleg vir privaat-kelders ter wêreld! Hierdie tenks word deur Tonnellerie Taransaud in Cognac in Frankryk vervaardig en is met temperatuurbeheer toegerus. Die sauvignon blanc word in tenks van vlekvrye staal gegis.

Die rooiwyne word verouder in ’n verouderingskelder waar 1 500 barriques (225ℓ) ingespan word. Dit word ook deur Taransaud voorsien.

Inlyn met die sogenaamde château-beginsel, word Capaia se wyne gemaak van druiwe wat op die plaas self verbou word. Niks word van buite aangekoop nie. Die wyne word ook hier gebottel en ge-etiketteer.

Die kelder verwerk sowat 250 ton druiwe per jaar en produseer sowat 150 000 liter wyn. Die rooi kultivars word heeltros gegis.

Ons besoek het in die indrukwekkende kelder afgeskop waarna ons na die proelokaal is. Capaia het ’n verbasend beperkte wynreeks. Daar is die Sauvignon Blanc met sy prominente geure van wit perske, die Capaia Cabernet Sauvignon Merlot-versnit met heerlike geure van rooi en swart vrugte en sweempies speserye en kruie, en die ONE, Capaia se vlagskipwyn, ’n cuvée van die vier rooi kultivars wat op die plaas verbou word. Verwag intense aromas van swart vrugte met ’n aardse, mineraalagtige boeket, en dan ook die geur van kruie wat onderskraag word deur ’n heerlike vleisagtigheid in die mond.

Van tyd tot tyd, en afhangende van die oes, stel Capaia ook ’n spesiale Shiraz bekend, gemaak van druiwe uit die bosstokwingerd op die plaas. En daar word ook ’n Rosé gemaak.

Op die wynlys word ook verwys na die Skaliekop Red (van cabernet sauvignon) en die Southern Slopes White (van sauvignon  blanc), maar hulle was uitverkoop. Dis glo wyne wat uit die COVID-19-inperking gebore is, bekostigbaar en gemik op alledaagse genot.

Hiervandaan is ons terug na Mariella’s vir middagete. As ons gereken het die wyne gaan die enigste hoogtepunt van die besoek wees, het ’n baie aangename verrassing op ons gewag.

Mariellas bied pragtige uitsigte oor ‘n groot grasperk, olyfboorde en wingerde tot doer by die horison.

Ons het besluit om buite op die dek stelling in te neem om die asemrowende uitsigte saam met die kos en wyn te geniet, en die drie saam het gesorg vir ’n onvergeetlike ervaring, een wat ons vir almal kan aanbeveel wat goeie kos en wyn in die aangesig van ’n hemelse panorama kan waardeer. Dis die soort kuier wat mens wil hê moet nooit ophou nie.

‘n Voorgereg wat die mond laat water vir die res van die spyskaart.

Die feestelike getjirp van dosyne voëltjies in die nabygeleë olyfboord en die rustige klanke van kabbelende water in die “stroompie” wat in die groot grasperk voor die gebou afloop, het bygedra om die fees van kos en wyn ekstra spesiaal te maak. En onwillekeurig het die vraag van die eeue weer eens opgeduik: Hoekom kom alle goeie dinge tot ’n einde?

Lekker kos, lekker wyn en asemrowende uitsigte is maar net deel van die aanbiedings hier.

Net so terloops, as jy nie veel gepla is met kelders nie, selfs nie eens ’n unieke een soos dié nie, reël dan dat jy die wynproe by Mariella’s doen, en bly sommer vir middagete. Oppas net, mens kan maklik hier wortel skiet!

Maar waar kom die naam vandaan? Wel, Capaia se panoramiese uitsigte, wat die ikoniese Tafelberg insluit, het die eienaars op die naam laat besluit want dit beteken glo “baie van die Kaap”!

Vir meer inligting, kontak Capaia op 021 972 1080 of info@capaia.co.za, of besoek www.capaia.co.za.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>