By Worcester kuier mens langer!

Date posted:
October 21, 2010

Goeie wyn verg passie en toewyding. Dit verg ook tyd en tegnologie. En dis juis tyd wat mens nodig het wanneer jy die Kaap se prentjiemooi wynlande betree. Tyd om die natuurskoon te aanskou en waardeer, tyd om die mense te leer ken en tyd om die groot verskeidenheid wyne te proe, ervaar en waardeer.

Langs die R43 tussen Worcester en Villiersdorp lê vyf van die Worcester-wynroete se tien kelders in die Breëriviervallei, en elkeen is ‘n besoek werd. Maar vat jou tyd want hier wag baie om ontdek te word.

Op ‘n onlangse besoek, wat aan Villiersdorp se kant begin het, het ek vier van die kelders aan die R43 besoek met Chevrolet se aantreklike en kragtige Captiva (lees berig hieronder). My besoek het by die geskiedkundige Stettyn Kelder (023-340-4220 / stettyncellar@breede.co.za) begin. Die wingerde en plaasgrond rondom Stettyn is volop geskiedenis en tradisie, en wyn is reeds vir meer as ‘n eeu deel van hierdie geskiedenis. Die druiwe kom van vier plase af waar die drie Botha-broers en Henrik Griessel die septer swaai – die oorspronklike Stettyn-landgoed, Stettyn Wingerde, Jonkersrivier en Die Hoek.

“Ons passie is om die essensie van die area in ons wyne vas te vang,” vertel Albie Treurnicht, die wynmaker en keldermeester. En dit raak gou duidelik wanneer mens die wyne proe. Van die vyf wyne wat ek geproe het, het veral die Millstone Chenin Blanc 2010, die Millstone Stone Red 2008 (‘n versnit van cabernet sauvignon, cabernet franc en cinsaut) en die Stettyn Cabernet/Shiraz 2007 die smaakkliere behoorlik aan die gons gekry. Die Millstone Shiraz Rosé 2010 is effe te soet vir my mond, maar ek reken hy sal yskoud baie vriende maak hierdie somer.

En met pryse wat wissel van R23,50 tot R40,00 kan besoekers maar gerus met leë bagasiebakke kom want dis goeie waarde vir geld wat Stettyn bied.

Byskrif: Lekker kos, lekker wyn en lekker geselskap maak die lewe 'n lekker reis! Elzabe Morkel van die Worcester-wynroete en een van Eagle's Cliff se mooi meisies poseer by die "ligte spyskaart" saam met Christaan Groenewald terwyl die kos en wyn op ons wag.

Hiervandaan is ons ‘n paar kilometer in die Breëriviervallei af in die rigting van Worcester na die tuiste van Eagle’s Cliff-wyne (023-340-4112 / christiaan@ncw.co.za). Ek het al tevore hier by Christiaan Groenewald-hulle oorgebly in die gerieflike gastehuis met sy pragtige uitsigte op wingerde wat regoor die kelder geleë is.

New Cape Wines, gestig in 2000, het vinnig ‘n welverdiende reputasie opgebou vir gehaltewyn teen baie mededingende pryse en as ek so na my proelysie van die dag kyk, sien ek dat nie minder nie as sewe wyne ‘n regmerkie by my gekry het vir “waarde vir geld”.

Christiaan bemark vier wynreekse, naamlik Eagle’s Cliff, Eagle’s Cliff Reserve, Dwyka Hills en Arendskloof. Die wyne wat ek geproe het, was almal van die Eagle’s Cliff-reeks met pryse wat tussen R30,00 en R50,00 gewissel het.

Na die geproe is daar op die kelder se stoep heerlike “brunch” geniet, natuurlik saam met Christiaan se voggies. Hier word heerlike ligte etes aangebied, ook binne, maar dis darem net te lekker op die stoep om tussen mure te gaan sit. Benewens die pragtige uitsigte kan jy dalk net deur ‘n bietjie wild verras word!

Van Eagle’s Cliff af is ons sommer grondpadlangs na Brandvlei Kelder (023-340-4215 / brandvlei@breede.co.za)  waar die mense onbeskaamd spog dat hulle waarde-vir-geld-wyne maak, en as die tydskrif WINE ‘n chardonnay, chenin blanc en hanepoot vereer met BEST VALUE-toekennings, dan weet jy “waarde vir geld” is geen liegstorie hier nie.

Byskrif: Hulle vertel dat genoeg wyn alle meisies mooi laat lyk. Nog 'n pluspunt vir wyn! Emma Smit, skakelbeampte by Brandvlei, is egter mooi of jy nou nugter of dronk is. Brandvlei se rooiwynmaker, Daneel Jacobs, is die doring by die roos! 

Die duurste wyn hier is ‘n Hanepoot Jerepigo wat R25 kos! Hul Chardonnay 2010 kos ‘n skamele R18, terwyl die Chenin Blanc 2010 jou 50 sent minder uit die sak gaan jaag. Vat ‘n sleepwa saam wanneer jy daar gaan besoek aflê!

My laaste besoek van die dag was by Aan de Doorns (023-347-2301 / info@aandedoorns.co.za), sowat 8 km van Worcester af. Aan de Doorns is een van die grootste kelders in die Worcester-wynstreek en is in 1954 gestig. Die kelder se wingerde dek 1 200 hektaar op 24 plase in die Aan de Doorns-, Eilandia- en Scherpenheuwelareas. Die kelder staan in ‘n vennootskap met First Cape Group, een van die suksesvolste handelsmerk in die VK.

Met pryse wat wissel van R20 tot R32 en BEST VALUE-toekennings van WINE vir die Chenin Blanc 2010 en Pinotage 2009 is daar eintlik niks wat ek verder kan byvoeg nie! Behalwe dat die kelder se Doornroodt, ‘n 50/50-versnyding van ruby cabernet en merlot, altyd ‘n teenwoordigheid in my ou keldertjie het, asook van Aan de Doorns se bekende gefortifiseerde wyne, veral daai Rooi Muskadel.

Chevrolet se indrukwekkende Captiva LTZ

Braaivleis, rugby, sonskyn en Chevrolet! Diegene wat hierdie advertensie-deuntjie nog kan onthou, is beslis nie meer vandag se kind nie. Wel, vir ‘n hele paar dekades was Chev nie deel van die SA motorlandskap nie, maar vandag is hy, soos omtrent elke ander motorvervaardiger, terug en hopelik om te bly.

Byskrif: Chevrolet se indrukwekkende Captiva LTZ pronk voor die kelder/restaurant op Eagle's Cliff.

Toe die Chevrolet Captiva LTZ hier by my huis afgelewer is, kon ek om die dood nie onthou wanneer laas ek ‘n Chevy gery het nie. Selfs in my jare as motorskrywer in die laat 70s en vroeë tot middel 80s van die vorige eeu kan ek nie ‘n enkele Chev onthou wat ek getoetsbestuur het nie.

 

Hou dit ook al sy, ek het die aantreklike, skoon lyne van die Captiva (nie juis mal oor die naam nie!) uit elke hoek bekyk en besluit ons twee moet die pad vat. So gesê, so gemaak, en hoe meer teer en grond onder die wiele deur is, hoe meer het ek van hierdie sportnutsvoertuig gehou.

 

Die V6-enjin van 32, liter lewer ‘n gespierde 169 kW en 297 N.m, terwyl die vyfspoed- outomatiese ratkas die krag doeltreffend en seepglad na die wiele oordra. Die vervaardiger sê hierdie luukse, gerieflike en ruim vuurwa se brandstofverbruik is 11,6?/100km, maar dan het jy ‘n ligter regtervoet as ek nodig. Verder spoeg hy 278 g/km CO? uit wat nie juis omgewingsvriendelik is nie.

 

Ek het eintlik net twee klagtes teen die Captiva LTZ. Die een is die oorsensitiewe stuur. Die stelsel is perfek vir byvoorbeeld ‘n parkeergarage, maar ek verkies dat dit luier raak op die oop pad namate mens vinniger ry. Verder het selfs vroulief ‘n slag of wat kommentaar gelewer op die ratel- en piepgeluide, en vir ‘n voertuig van oor die R430 000 en met net sowat 4 000 km op die klok was dit nie juis bemoedigend nie.

 

Baie mense sal nie met my eerste klagte saamstem nie en wat die tweede betref, wel, ander mense wat al die Captiva onder hande gehad het, het geen klagtes oor afwerking geopper nie. Miskien was dit net hierdie spesifieke voertuig. Hoop so.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram