Bruwer Raats vier ‘n dekade van cabernet franc

Date posted:
June 5, 2012

Die cabernet franc-spesialis, Bruwer Raats, het onlangs ‘n wynproe by Wine Cellar aangebied om sy tiende oesjaar van Raats Cabernet Franc te vier. Gaste het die reis vanaf sy heel eerste oesjaar in 2001 tot die 2010-oesjaar, wat eersdaags bekend gestel word, meegemaak.

 

Volgens Raats was dit ’n unieke en emosionele geleentheid aangesien hy nog nooit al tien oesjare op een slag geproe het nie. “Hierdie is ’n uitdagende maar baie opwindende ervaring vir my. Die geheim om ’n wynhandelsmerk suksesvol te vestig, lê in volhoubaarheid. As jy tien agtereenvolgende oesjare goed kan doen, kan jy vir nog tien aanhou. My doel was om ’n cabernet franc te maak waardeur ’n goue draad tien jaar lank loop, maar waar elke oesjaar se karaktertrekke steeds na vore kom,” verduidelik Raats.

 

Raats het nog altyd geglo dat cabernet franc sekere grondsoorte verkies – soortgelyk aan dit wat in die Loire-vallei gevind word en nie noodwendig in Bordeaux nie. “Cabernet franc hou nie van grond wat te vrugbaar is nie en daarom was ons vertrekpunt om wingerde te vind wat in ontbinde dolomiet-granietgrond geplant is aangesien dit die mees soortgelyke grondsoort is plaaslik. Hierdie grondsoort laat die karaktertrekke van die oesjaar na vore kom terwyl moeder natuur die volgehoue draad van elegansie, kompleksiteit, varsheid en suur verskaf wat in al my wyne gevind word,” sê Raats.

 

Wynkritici en –entoesiaste het gesukkel om ’n gunsteling te kies uit die tien oesjare oor twee proesessies, maar was eensgesind oor die koersvastheid van die wyne. Die weerstoestande gedurende elke oes het ’n interessante rol gespeel in die finale karakter van die wyne met soortgelyke oeste wat soortgelyke smaakprofiele opgelewer het.

 

Roland Peens van Wine Cellar en Christian Eedes van whatidranklastnight het saamgestem dat die 2009-oesjaar hul gunsteling was. Peens het dit beskryf as “’n cabernet franc wat uitstaan met skitterende suiwerheid en helderheid”, terwyl Raats saamgestem het dat dit beslis ‘n oesjaar is wat op sy eie staan. “Hierdie is wat ek wou hê ’n Suid-Afrikaanse cabernet franc moet wees!” Die bekende Duitse sommelier, Jorg Pfutzner, het genoem dat die 2006-oesjaar nog altyd sy gunsteling was omdat dit so ’n ongelooflike lengte het.

 

Die elegansie van Raats se cabernet francs is inderdaad weerspieël in die kommentaar van die gaste wat net sowel ’n beeldskone vrou kon beskryf het. “Weelderig, verleidelik, oop en sag, ’n bietjie lomp, ferm en volrond” was maar ’n paar van die aanmerkings soos die gaste deur die oesjare geproe het.

 

’n Kaapse Wynmeester, Lizette Tolken, is een van die voorste kenners van cabernet franc aangesien sy haar tesis oor hierdie kultivar gedoen het.  “Daar is tans 43 enkelkultivar- cabernet franc-produsente  in die land en ek’s mal oor die styl van Bruwer se wyne. Hoewel al die wyne van mekaar verskil, het hierdie proe gewys dat cabernet franc kan verouder en ek het die 2003-oesjaar interessant gevind met sy geurige kompleksiteit. Hierdie is baie beslis ’n goeie wyn.”

 

Ter afsluiting het Eedes bygevoeg: “Ek weet wie ek gaan kies as ek cabernet franc drink. Bruwer, jy loop die res ver vooruit.”

 

Vir meer inligting, besoek  www.raats.co.za.

 

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram