Brandewynboek-wenner ‘n ware wynbekeerling

Date posted:
July 27, 2009

Dolf Prinsloo van Waverley in Pretoria is die gelukkige wenner van “fire water: SOUTH AFRICAN BRANDY”. Baie geluk!

 

Dolf vertel dat hy ‘n vurige Blou Bul-ondersteuner is, maar so ‘n jaar of drie gelede sy bier vir ‘n glasie wyn begin ruil het. En so het hy ook begin vrae vra, lees en luister wanneer daar van wyn gepraat word. Vandag drink hy glo net by uitsondering nog bier.

 

“Toe ek besef daar’s baie meer in wyn as net rooi of wit alkohol, en dat wyne van mekaar verskil, dikwels dramaties, en nie net wat betref kultivars nie, maar ook wat betref oesjare en wynstyle, het ek besef hoekom jy so passievol skryf oor wyn.

 

“Ek lees elke dag Planeet Wyn se artikels en vind hulle baie leersaam en interessant. Ek dink die grootste les wat ek by jou geleer het, is dat wyn ‘n baie persoonlike saak is en dat handelsmerk, toekennings en prys ‘n minimale rol moet speel in my wynaankope.

 

“Elke keer wanneer ek nou in die Kaap kom, gaan kuier ek iewers by wynmakers en proe totdat ek iets vind waarvan ek hou. Dan koop ek hom, as ek dit natuurlik kan bekostig!

 

“Ek vind dit steeds ongelooflik om dieselfde soort wyn van twee plase reg langs mekaar te proe en te vind daar’s verskille! Jy’s reg, dis so ‘n ongelooflik dinamiese drank dat dit omtrent ‘n reis soos die lewe is.

 

“As ek so lees van die wynplekke wat jy van tyd tot tyd besoek en die verskillende wyne wat jy proe, dan spoor dit my net nog meer aan om dieselfde te doen: om meer wynmakers te besoek en meer wyne te proe.

 

“Baie dankie, jou en ander wynrubrieke het vir my ‘n nuwe deur oopgemaak na ‘n lewe van pret en plesier.”

 

Dolf erken hy’s nog nie eintlik ‘n brandewyndrinker nie en dat hy ook maar Coke by syne gooi wanneer hy die slag een bestel, maar hy’t plegtig onderneem om “fire water: SOUTH AFRICAN BRANDY” deeglik te lees en te bestudeer, en natuurlik versoek dat wanneer hy weer in die Kaap is, ek hom op ‘n brandewyntoer moet neem.

 

Ons maak so, Dolf, en ek sien uit daarna om jou ook ‘n brandewyn-bekeerling te maak. Dit sal nie moeilik wees nie, glo my!

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram