Om die herlewing van die skemerkelkiekultuur te vier, het Alchemy of Gold, die portefeulje van keurbrandewyne, ’n nuwe generasie skemerkelkies met brandewyn as basis en met die klem op kontemporêre geure beskikbaar gestel.
Skemerkelkies het na bewering in die VSA ontstaan aan die begin van die 19de eeu. Aanvanklik het dit bestaan uit ’n kombinasie van gedistilleerde spiritualieë, suiker, water en bitterwyn, maar nou, meer as 200 jaar later, bestaan dit uit feitlik enige gemengde, alkoholiese drank.
Alchemy of Gold se nuwe versameling skemerkelkies met ’n brandewynbasis is geskep deur die bekende topsjef Peter Goffe-Wood, wat homself ’n kos-alchemis noem.
“Sy benadering tot die kombinering van aromas, geure en teksture het hom die ooglopende keuse gemaak om hierdie maklik-om-te-maak-, maar dramaties-om-na-te-kyk- en watertandlekker-mengsels te ontwikkel,” sê Siobhan Thompson, wat aan die hoof staan van die Alchemy of Gold-span wat die portefeulje connoisseur-brandewyne bestuur.
“Hy het vars vrugte, kruie en speserye gebruik, met die fokus op seisoenale bestanddele. Hierdie skemerkelkies is ’n prettige, romantiese en kostedoeltreffende manier om in styl te onthaal.”
Sy het bygevoeg dat brandewyn-skemerkelkies nommerpas is vir die Suid-Afrikaanse klimaat en kultuur. “Met ons lang tradisie van brandewyn met mengeldrankies drink, het ons ontdek dat brandewyn ’n puik basis vorm vir eietydse skemerkelkies.”
Thompson sê die sterk invloed van Asiatiese, Mediterreense en Midde-Oosterse kos het ’n impak op vandag se mengseldrankies, met bestanddele soos vars gemmer, naeltjies, kardemom en brandrissie wat hul opwagting in brandewyn-skemerkelkies maak en wat die natuurlike vrugte- en houtspeserykarakter van Suid-Afrikaanse brandewyn uitlig.
“Avontuurlustige vermengers weerspieël brandewyn se geurige vrugte-aromas met die insluiting van vars vrugte en kruie soos ons turksvy en selfs ons inheemse boegoe, asook vye en bessies.”
Selfs die tradisionaliste het die nuwe arena betree, sê sy, met die Bureau National Interprofessionnel du Cognac wat verlede jaar ’n groot inisiatief in Cognac geloods het waartydens die wêreld se voorste vermengers uit die VSA, die VK en Europa genooi is om ’n cognac-skemerkelkie vir die moderne era te ontwikkel. Die resultaat, sê Thompson, is die Summit, ’n kombinasie van brandewyn en lemonade wat opgekikker is met vars gemmer en suurlemoenskil, verfraai met komkommer, en wat ’n skouspelagtige sukses van Milaan tot Mellville is.
Daar is meer teorieë oor hoe die skemerkelkie sy naam gekry het as wat daar bestanddele is in baie van vandag se gewilde mengeldrankies met spiritus as basis, meen sy.
“Waaroor daar eenstemmigheid is, is dat skemerkelkies ’n Amerikaanse skepping is en dat die woord “cocktail” vir die eerste keer in die vroeë 1800s gebruik is. ’n Publikasie wat in 1806 in Hudson in die staat New York verskyn het, getiteld Balance and Columbian Repository, het die skemerkelkie beskryf as “’n stimulerende drankie wat bestaan uit enige soort spiritus, suiker, water en bitterwyn – dit word in die alledaagse spreektaal ’n bittered sling genoem en is veronderstel om ’n uitstekende verkiesingsdrankie te wees in soverre dit die hart sterk en dapper maak terwyl dit terselfdertyd die kop deurmekaar maak.’”
Een teorie vertel dat die woord “cocktail” sy oorsprong het van die feit dat die vatkrane bekend gestaan het as “cocks”, terwyl die woord “tails” gewoonlik verwys het na die oorblyfsels aan die einde van die distilleerproses in die distilleerdery of in die bodem van die vat. Die oorblyfsels van verskeie vate is gekombineer deur taverne-eienaars en dan aan hul klante aangebied as “cock tailings”.
“Dit is ver verwyder van die luukse-skemerkelkies van vandag!” sê Thompson en voeg by dat ’n ander moontlike oorsprong vir die naam kan wees die feit dat kroegmanne in Mexiko houtlepels gebruik het wat gesny is uit ’n inheemse wortel bekend as cola de gallo (“cocktail”) om die plaaslike spiritus en pons te roer voor dit bedien is.
In New Orleans is spiritualieë soms bedien in ’n eierkelkie wat ’n coquetier genoem is, ’n woord wat mettertyd moontlik “cocktail” geword het. Ander meen dat die verskillende kleure in ’n hoenderhaam se stert moontlik vir die naam van die drankie verantwoordelik is. “Daar is ander, meer uitspattige stories oor hoe die naam “cocktail” ontstaan het en wat spioene, weermagte en minnaars behels. Niemand weet vir ’n feit wat die ware oorsprong van die woord is nie, maar die mites en volksmond dra tot die mistieke kultus by.”
Ons gaan oor die volgende paar weke van tyd tot tyd van die nuwe skemerkelkies se bestanddele en maakmetodes publiseer. Probeer hulle gerus en laat weet wat jy dink.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast