Brandewyn is ook ‘n wonderlike reis van ontdekking en verkenning

Nes wyn is brandewyn ook ’n wonderlike reis van ontdekking en verkenning. Die geure kan wissel van gedroogde vrugte en neute tot pynappel en vrugtekoek, van droë kruie en sitrus tot grenadella en gemmer, en van aarbeie en lemoen tot sjokolade en vanielje.

Hoewel plaaslike handelsmerke soos KWV en Van Ryn’s reeds wêreldwye lofbetuigings vir hul brandewyn ontvang het, is hulle nie die enigste produsente wat brandewyn maak wat spreek van sofistikasie en elegansie nie, drankies vir ’n ware heer en dame. Daar is ook minder bekende handelsmerke soos Laborie, Uitkyk, Boplaas, Mons Ruber, Grundheim, Upland en Laborie, om maar net ’n paar te noem.

Marlene Bester van Van Ryn’s het goeie raad as dit by die ontdekking en verkenning van brandewyn kom: “Hou aan om verskillende brandewyne te proe totdat jy jou gunsteling ontdek. In Suid-Afrika is daar ’n wye keuse en een vir elke smaak – van jonk en flambojant tot statig en gesofistikeerd. ’n Goeie brandewyn is geurig, sag en kompleks in die mond met ’n lang nasmaak.”

Marlene, daar’s meer as een vir elke smaak, glo my vry!

Omdat ek ’n groot liefhebber van potketelbrandewyn is, het ek altyd twee of drie verskillende handelsmerke in my versameling, maar dis meestal die GROOT name. Toe ek ’n ruk gelede ’n brandewyn van Boplaas in die Klein Karoo proe, besef ek dat ek my wynreis van ontdekking, wat oor byna 20 jaar strek, ook moet uitbrei na brandewyn.

Ek het onmiddellik drie van Boplaas se potketelbrandewyne in die hande gekry (’n artikel oor hulle verskyn op Planeet Wyn se Nuus-blad). ’n Wynvriend – ’n kenner van wyn in al sy wonderlike vorms – was net so oorbluf oor die heerlike geurprofiel van die Boplaas-vuurwaters en het my gevra om ’n artikel oor “minder bekende” brandewyne van gehalte te doen aangesien hy sy eie brandewynreis wil uitbrei.

Hier is ’n paar van my jongste ontdekkings wat ek ten sterkste kan aanbeveel:

Upland Drakenwuijn: Hierdie 12 jaar-oue potketelbrandewyn spog met geure van gedroogde perske, pynappel, vrugtekoek en neute. Dis elegant en sag.

Boplaas 12: Geure van droë kruie, fynbos, gedroogde perske, peer en speserye vul die mond en laat mens uitsien na die volgende teug.

Grundheim 9: ’n Unieke brandewyn vol geure van Karoobossie, gedroogde vrugte en karamel.

Mons Ruber Muscat d’Alexandrie: Vrugtig, geurig en gevul met tipiese muskaatgeure. Sonsondergang in ’n glas!

RWP 10: Komplekse geure van sjokolade, vanielje en gedroogde perske. Hierdie potketelbrandewyn is volrond en spog met ’n lang speseryagtige nasmaak.

LadiSmith Pot Still Brandy:  Hierdie 8 jaar-oue brandewyn stel ’n simfonie van tropiese vrugtegeure vry met piesang en lietsji aan die voorpunt, gevolg deur meer subtiele blommegeure en ’n sweempie rooi bessie. Kompleks dog sag en goed gebalanseerd met ’n talmende nasmaak van gedroogde vrugte.

Kingna 5: Fluweelsag met heerlike geure van peer, appelkoos, karamel en vanielje, en eindig met ’n delikate soet nasmaak.

Brandewyn kan op verskeie maniere geniet word. Ek sal nooit ’n brandewyn van uitnemendheid met ’n mengeldrankie bederf nie, en geniet dit eerder met suiwer mineraalwater – twee skeute brandewyn en eweveel water (stil of vonkelend) – en twee of drie blokkies ys (afhangende van die grootte van die blokkies), gemaak van dieselfde suiwer mineraalwater. En ek gebruik altyd ’n skoon glas wat met die hand gewas en met ’n skoon vadoek afgedroog is.

Vir diegene wat nog nie brandewyn van uitnemendheid geproe het nie, of wat hul neus vir brandewyn optrek, die volgende brokkie raad van ’n heer en brandewynmeester: “Brandewyn word dikwels behandel soos whiskey se stiefboetie deur mense wat nie van beter weet nie. Vir hulle wil ek net sê: ‘The road less travelled often reveals the most rewarding experiences.’”

Halleluja!

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>