Boplaas se ports kraai koning op Veritas!

Date posted:
October 12, 2011

Boplaas net buite Calitzdorp in die Klein Karoo maak selde lawaai. Reg of verkeerd. Die Nels laat eintlik hul wyne die lawaai maak. Veral hul portwyne. Soos nou pas weer op die SA Nasionale Wynskou, beter bekend as Veritas.

 

Die Nel-familie, onder die Boplaas-vaandel, het nie net 3 dubbelgoue medaljes en ‘n goue op vanjaar se Veritas los geslaan nie, maar Boplaas het kort op die hakke van die allemintige KWV geëindig op die lys van top presteerders, ‘n uitsonderlike prestasie vir ‘n privaat kelder in familiebesit wat in die proses ‘n hele paar bekende reuse in die wynbedryf stof in die oë geskop het.

 

Kan daar na dese nog enige twyfel wees dat Calitzdorp Suid-Afrika se porthoofstad is? En kan daar nog twyfel wees dat die Nels die portkonings is? Heelwaarskynlik nie net in Suid-Afrika nie, maar moontlik selfs in die wêreld! Portkenners sê lankal dat Portugal, die tuiste van port, ‘n kers of twee by Suid-Afrika se portmakers kan kom opsteek, en Veritas het dit pas beklemtoon.

 

Maar genoeg van die geheuningsmeerdery! Kyk na die feite:

·                     Dubbelgoud vir Boplaas se 1997- Cape Tawny Reserve Port (wat vroeër ook ‘n vyfstertoekenning in die gesaghebbende Platter-wyngids ontvang het en wenner is van die museumklas op die Cape Port Challenge)!

·                     Dubbelgoud vir die 2009- Cape Vintage Port!

·                     Dubbelgoud vir Boplaas se Cape Tawny Port N/V (wat vanjaar op SAL as “Port van die Jaar” bedien word en klaswenner was by die Cape Port Challenge)!

 

En dan was daar ook ‘n gewone goue medalje (asof goud ooit gewoon kan wees!) vir Boplaas se Cape Vintage Reserve Port van die 2008-oesjaar wat vroeër ook ‘n vyfstertoekenning in die Platter-wyngids ontvang het.

 

Byskrif: Ja-nee, die Nels het sommer vroeg al begin feesvier, so asof hulle geweet het hulle gaan 'n goud-aar raakboor op Veritas. Kyk na die tyd op die foto! Hier vier Margaux, wat in die kelder toor, Rozanne, wat die goue voggies van Boplaas bemark, en Carel en Jeanne met 'n vonkel in die glas en die oog. Daniel, die jongste van die drie Nel-kinders, is afwesig.

 

Boplaas het in die afgelope paar jaar gewys dat sowel sy portwyne as sy tafelwyne wêreldklas is deurdat die Boplaas Cool Bay Sauvignon Blanc (C Nel Wyne) in 2009 en 2010 aangewys is as die SA Kampioen Sauvignon Blanc  (SANW) en verskeie rooiwyne reeds vierstertoekennings in die Platter-wyngids gekry het. Boplaas se rooi versnit van cabernet sauvignon, merlot en touriga naçional is ook onlangs gekies as een van die top 10 wyne vir Nasionale Braaidag deur Food24.com.

 

Vir meer inligting oor Boplaas en hul wynreekse, kontak Rozanne Nel by 044-213-3326 of marketing@boplaas.co.za.

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram