Bonnievale Wines voeg Shiraz by sy alkoholvrye reeks

Daar word gesê om alkoholvrye wyn te drink, is soos om jou suster (of broer) te soen, maar dit lyk asof al hoe meer mense deesdae lus is om mekaar te soen, by wyse van spreke natuurlik. Wel, as die Franse dit kan doen (darem net ’n pik op die wang), kan die res van ons seker maar ook!

Bonnievale Wines het onlangs ‘n opwindende nuwe toevoeging tot sy NEAT-reeks alkoholvrye wyne bekend gestel. Die nuwe Bonnievale NEAT Shiraz 2020 sluit aan by die wynmakery se alkoholvrye Sauvignon Blanc.

“Die alkoholvrye NEAT-wyne maak veilige samesyn moontlik sonder om gehalte en plesier in te boet,” sê Carlen Wahl, bemarkingsbestuurder van Bonnievale Wines.

Bonnievale Wines se NEAT Sauvignon Blanc.

Die NEAT-wyne bevat minder as 0,05% alkohol, wat ook minder kalorieë beteken, maar bly glo getrou aan elke kultivar en oesjaar. Soos in die vervaardiging van alle rooiwyne, het die NEAT Shiraz ‘n rypwordingstydperk ondergaan wat ‘n optimale ontwikkeling van die aromas en geure van die wyn moontlik maak, lui ’n verklaring.

“NEAT Shiraz bied al die gehalte en geur wat jy verwag, maar sonder die effek van alkohol. Die 2020-oesjaar is propvol smaak met bessie-, viooltjie- en ‘n sweempie witpepergeure, stylvol afgerond met ’n nasmaak van rooi vrugte en speserye. Die wyn is vrugtig en komplementeer meeste geregte, maar kan ook op sy eie geniet word.”

Bonnievale NEAT Shiraz 2020 verkoop teen R75 per bottel en die Bonnievale NEAT Sauvignon Blanc 2021 teen R65 per bottel.  Die wyne kan direk van Bonnievale Wines se aanlynwinkel by www.bonnievalewines.co.za bestel word.

Vir meer inligting oor Bonnievale Wines, besoek hul webtuiste, skakel 023 616 2795 of stuur ’n epos aan tastings@bonnievalewines.co.za.

Deel jou NEAT-oomblikke met Bonnievale Wines deur hulle te tag op Twitter @bonnievalewines; Instagram, met bonnievalewines; en Facebook (https://www.facebook.com/bonnievalewines/).

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>