Bonnievale Wines staan sy man in die beste cabernet-geselskap

Stellenbosch mag nou wel as Suid-Afrika se “cabernet sauvignon-hoofstad” beskou word, maar ’n rits onlangse toekennings vir Bonnievale Wines het nie net die kollig laat val op dié wynmakery se puik wingerdbou- en wynmaakpraktyke nie, maar ook op die feit dat hy nie ’n tree hoef terug te staan wanneer dit by cabernet  sauvignon van gehalte kom nie.

Net so terloops, cabernet sauvignon is die wêreld se mees aangeplante rooiwynkultivar, ook in Suid-Afrika.

Bonnievale Wines se onlangse cabernet-prestasies het begin by die Robertsonse streek-afdeling van die Suid-Afrikaanse Nasionale Jongwynskou toe die wynmakery se ongehoute Cabernet Sauvignon vir die tweede agtereenvolgende jaar as beste in sy klas gekroon is. Daarna het dieselfde wyn die Castle Wine and Brandy Company-trofee as algehele wenner in die ongehoute kategorie by die nasionale kompetisie ingepalm. Hierdie toekennings volg kort op die hakke van die Old Mutual Trophy-wynskou waar die Bonnievale Barrel Select 2015 Cabernet Sauvignon die goue medalje én die trofee vir Vonds van die Skou / Beste Waarde los geslaan het.

“Bonnievale se cabernet sauvignon het op ’n baie belangrike tyd tot sy reg gekom,” sê Carina Gous, Bonnievale Wines se Uitvoerende Direkteur: Bemarking en Verkope. “Soos produsente onder al meer druk gebuk gaan, word wingerde toenemend vir meer winsgewende gewasse verruil. Uitstekende gehalte gaan egter nooit uit die mode nie.”

Marthinus Rademeyer, Bonnievale Wines se Bestuurder: Wynmaak en Produksie, sê die grootste bydrae tot die produksie van topgehaltewyn lê in uitstekende wingerdboupraktyke ten einde gesonde druiwe te verseker.

“Bonnievale se cabernet sauvignon word gekenmerk deur sy vrugtige karakter en ryp, sappige tanniene,” sê Marthinus.

Die Bonnievale-wynkelder is in November 2006 gestig na die samesmelting van die Bonnievale-, Merwespont- en Nordale-wynkelders. In Desember 2018 het ’n samesmelting met Wandsbeck Wyne nog meer kultivar-, styl- en terroir-diversiteit by die wynportefeulje gevoeg en gelei tot die totstandkoming van Bonnievale Wines.

Bonnievale Wines se wyne is landwyd beskikbaar en kan ook deur sy aanlynwinkel bestel word by  www.bonnievalewines.co.za.

Vir meer inligting oor Bonnievale Wines, skakel 023 616 2795 of stuur ’n epos aan info@bonnievalewines.co.za, of besoek www.bonnievalewines.co.za.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>