Bonnievale maak indrukwekkende debuut op Old Mutual-wynskou

Bonnievale Wines het sy debuut op die jongste Old Mutual Trophy-wynkompetisie gevier met nie minder nie as twee medaljes en ’n trofee. Wat Bonnievale se wynmaakspan selfs meer breëbors laat staan, is die feit dat hulle die enigste trofeewenner uit die hele Robertson-wynstreek is, en een van slegs 32 goue medalje-wenners! Die beoordelingspaneel het vanjaar 956 wyne van 206 produsente geproe vir die kompetisie.

“Dis ’n geweldige eer vir ons,” sê Marthinus Rademeyer, Bonnievale Wines se produksiebestuurder. “Om op die Old Mutual Trophy-kompetisie uit te blink waar ’n ervare en internasionale proepaneel gebruik word, maak dit ’n baie beduidende kampioenskap, veral omdat ons soveel sorg in die internasionale aansien van ons wyne geploeg het.”

Die Bonnievale Barrel Select Cabernet Sauvignon 2015 (bo) het goud én die Old Mutual-trofee vir “Vonds van die Skou/Beste Waarde” gewen. Dit het ’n telling van 94/100 behaal en is deur die beoordelaars beskryf as ’n “wêreldklaswyn”. Die wyn is kompleks en verklap swartbessie- en speserygeure. Die smaak is vruggedrewe en verklap ’n rokerigheid met bessie- en pruimgeure, met ’n skeutjie donker sjokolade. Dit het vir 15 maande in Amerikaanse en Franse eikehoutvate verouder voor dit gebottel is.

Sy “vennoot” in die kompetisie se uitslag is die Bonnievale The River Collection Cabernet Sauvignon Merlot 2017 (regs) wat ’n medalje ontvang het vir “goed tot baie goeie, uitstekende karakter”.

“Die Bonnievale Barrel Select Cabernet Sauvignon 2015 se druiwe is afkomstig uit ’n wingerdblok wat deur verskillende kelders in die groep verwerk is. ’n Verdere keuring het gevolg toe ons die vate moes kies wat in die finale versnit gebruik is. Hierdie was waarlik ’n spanpoging – van die wingerdboukundige beleggings om die beste druiwe te verseker tot die wynmaakspanne se betrokkenheid,” sê hy, en voeg by dat die wyn weer bewys dat sukses ’n lang proses is.

Die Bonnievale Wynkelder is in November 2006 gestig na die drieledige samesmelting van die Bonnievale-, Merwespont- en Nordale-wynkelders wat meer as ’n dekade se groei vir lede-kelders ingelui het.

Die kelder se hernieude fokus op hoë gehalte en goeie waarde het tot die opknapping van die portefeulje én die vrystelling van die River Collection-reeks gelei wat reeds ’n gros plaaslike en internasionale toekennings tot gevolg gehad het. In Desember 2018 het ’n samesmelting met Wandsbeck Wyne nog meer kultivar-, styl- en terroir-diversiteit tot die portefeulje toegevoeg met die skepping van die Bonnievale Wyngroep.

Bonnievale Wines se wyne is landswyd beskikbaar en ook deur sy aanlynwinkel by www.bonnievalewines.co.za.

Vir meer inligting oor Bonnievale Wines, skakel 023 616 2795 of stuur ’n epos aan nina@bonnievalewines.co.za, of besoek www.bonnievalewines.co.za.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>