Bon Courage se ‘vonkels’ presteer in Cap Classique-uitdaging

Date posted:
October 22, 2010

Bon Courage, die bekroonde familie-wynlandgoed by Robertson, het met onderskeiding uit die stryd getree op die onlangse Amorim Cork Cap Classique-uitdaging van die tydskrif WINE en nie net die “Best Blanc de Blancs”-toekenning gewen nie, maar ook die prys ingepalm vir die “Best Overall Cap Classique” vir hul Jacques Bruére Blanc de Blancs 2007. Dis die tweede keer dat Bon Courage hierdie prestasie behaal.

Hierbewens het die kelder se 2006-oesjaar van die Jacques Bruére onder die top vyf op punte in die uitdaging ge-eindig en is Bon Courage se ander Cap Classiqie, die Jacques Bruére Brut Reserve 2007, deur die paneelvoorsitter aangewys as een van vier “Investment Cap Classiques”.

In 2004 het die 2000-oesjaar van die Jacques Bruére Brut Reserve die toekenning ontvang vir die “Best Overall Cap Classique” op dieselfde kompetisie. Dit maak van Bon Courage een van slegs twee produsente wat die top toekenning by twee geleenthede gewen het op hierdie vooraanstaande kompetisie.

‘n Verheugde Jacques Bruwer, die derde generasie wat op die plaas boer en mede-eienaar met sy pa André, het gesê hy is trots op hierdie vername erkenning van die landgoed se vermoë om uitmuntende Cap Classique-wyne te maak, wat hy as ‘n “pluspunt” vir die Robertson-vallei as ‘n geheel beskou. Hy het bygevoeg dat hierdie eerbewys ‘n aanduiding is van die vallei se “vermoë om uitmuntende Cap Classiques te maak, indien nie die beste in die land nie”.

Byskrif: Jacques Bruwer (agter) by sy broer, Pieter, en pa, Andre, in die kelder op Bon Courage.

 

Jacques se liefde vir vonkelwyne is deur sy pa geïnspireer wat Méthod Cap Classique nog altyd as die grootste uitdaging in wynmaak beskou het. Wat as ‘n proefneming begin het, het nou so ‘n groot sukses geword dat Cap Classique vandag as Bon Courage se vlagskip beskou word. Dit kan aan verskeie faktore toegeskryf word: ideale klimaatstoestande, die krytagtige kalksteengrond van die Robertson-omgewing, die ouderdom van die wingerdstokke wat wissel tussen 16 en 22 jaar, ‘n oorvloedige 36 maande op die moer, moderne keldertegnologie en tradisionele wynmaakvaardighede wat oor verskeie generasies strek.

Bon Courage se Jacques Bruére Cap Classiques word so genoem om die Bruwers se Franse Hugenote-erfenis te herdenk. Die Bruéres het uit die Loire-vallei gekom.

Die Cap Classiques word van die begin tot die einde met die hand gemaak ingevolge die tradisionele “Champagne”-protokol en word eers na drie jaar se versigtige veroudering in die kelder vry gestel. Die Jacques Bruére-reeks sluit in ‘n tradisionele chardonnay/pinot noir-versnit, die Jacques Bruére Brut Reserve (huidige oesjaar is 2007) en die Jacques Bruére Blanc de Blancs (huidige oesjaar is ook 2007) wat uit 100% chardonnay bestaan. Hierdie elegante en klassieke wyn toon pragtige vrugtegeure met sweempies lemmetjie, ‘n vol, gisagtige beskuitneus en ‘n romerige kompleksiteit in die mond wat eindig in ‘n heerlik talmende volheid en finesse. Dit kos tussen R100 en R110.

Altesaam 78 inskrywings is “blind” geproe op die 2010- Amorim Cork Cap Classique-uitdaging en die paneel het vir die eerste keer in die nege jaar van die kompetisie twee internasionale beoordelaars, Hervé Dantan, chef de cave van Champagne Mailly Grand Cru en Nicolas Follet van Oenosense Consulting van Reims in Frankryk, ingesluit. Die inskrywings is in vier kategorieë beoordeel, naamlik “Nie-oesjaar”,” Oesjaar”, “Blanc de Blancs” en “Rosé”. Uitsonderlike wyne in elke kategorie is beloon, terwyl die hoogste eer gegaan het aan die algehele wenner.

Bon Courage se bedryfsure

Proe en verkope       Maandag tot Vrydag van 08:00 – 17:00

                             Saterdae van 09:00 – 15:00

Restaurant              Maandag tot Vrydag van 09:00 – 16:30

                             Saterdae van 09:00 – 15:00

                             Oop vir aandfunksies

Bon Courage se kontakbesonderhede

Tel: 023-626-4178

Epos: wine @boncourage.co.za

Webblad: www.boncourage.co.za

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram